Jansen lewer toekomstige atletieksterre
Hoërskool Dr EG Jansen is trots op drie meisies atlete wie se harde werk op die atletiekveld beloon is.
Hierdie atlete is gekies vir die Gauteng atletiekspan wat die afgelope skolevakansie in Durban aan die Suid-Afrikaanse Skolekampioenskappe deelgeneem het.
Veruschka Woest (16) het aan die meisies o-17 100m, 200m en aflos deelgeneem en ’n goue medalje in die aflos-item verower.

Sy het ook ’n sesde plek in die 100m (in ’n tyd van 12.24 sekondes) en ’n vyfde plek in die 200m (in ’n tyd van 25.4 sekondes) los gehardloop.
Nanel Philipson het aan die meisies o-19 hamergooi en diskusgooi deelgeneem en onderskeidelik ’n sesde plek (36.48m) en elfde plek (31.09m) ingepalm.
Simoné van der Nest het aan die meisies o-19, 100m, 200m en aflos deelgeneem.
Sy was een van die uitstaande meisiesatlete tydens die kampioenskappe.
Simoné het goue medaljes in al drie haar items verower.
Haar 100m en 200m tye was onderskeidelik 11.93 sekondes (100m) en 24.11 sekondes (200m).
Simoné het ook vir Sentraal-Gauteng aan Atletiek Suid-Afrika (ASA) se nasionale kampioenskappe in Kaapstad deelgeneem.
Sy het weer goud in die 100m (12.32 sekondes) en 200m (25.24 sekondes) vir vrouens o-20 verower.



