‘n Hou nader aan drie-jarige se gehoor
Talle gholfspelers het op 29 Mei 'n dag van die sport op die Ebotse gholfbaan geniet.
Die dag is ten bate van Lémuël Mellett van Impala Park gehou.
Die drie-jarige seuntjie is met gehoorverlies gebore en moet ‘n kogleêre inplanting van R400 000 ontvang.
Lémuël is heeltemal doof in die linkeroor en het minimaal gehoor in sy regteroor, maar nie genoeg om spraak te kan ontwikkel nie, het sy ma, Lizanda Mellett, verduidelik.
Die kleuter word volgende Februarie, vier-jaar-oud en die inplanting moet voor dan gedoen word, aangesien die spraak-aanleer proses na hierdie ouderdom ingewikkeld word.
Die doelgerigte ouers het al altesaam R70 000 vir hul seun ingesamel.
Lémuël se pa, Leon Mellett, het bevestig dat ‘n afgeronde aantal naby aan R80 000 op die gholfdag ingesamel is.
Na ‘n hersiening van die ouers se aansoek, het hul mediesefonds ingestem om die hospitalisasie- en dokterskostes te dra. Lizanda meen dat dit sowat R100 000 van die kostes uitmaak.
Die suksesvolle gholfdag is trots bygewoon en ondersteun deur rugbyspelers van die Vodacom Blou Bulle, van wie Leon se broer, Morné Mellett, ‘n lid is.
Nog ‘n funksie, ‘n “Business Buffet Breakfast”, sal op 13 Junie by Summerplace in Boksburg gehou word, waartydens dr Nico van der Merwe (skrywer van “What does God know about Business?”), saam met Springbok agtsteman Pierre Spies, die geleentheid sal aanbied.
Die funksie sal vanaf 7vm tot 9.30vm gehou word.
Die Mellett gesin hoop dat die laaste fondse wat vir die inplanting benodig word, deur hierdie funksie ingesamel sal word.
Leon het ons meegedeel dat die gholfdag baie ondersteuning ontvang het, veral deur seremoniemeester André Watson, wie ‘n rugoperasie datum aangesyf het om die gholfdag te kon bywoon.
Hy het gesê dat die fondsinsameling baie gebaat het by die manier waarop Watson die veiling hanteer het.
Die dag is ook deur Hoërskool Brandwag, Hoërskool Hans Moore en Hoërskool Dr EG Jansen, waar die Mellett egpaar skool gegaan het, bemark.
Leon bedank die gemeenskap wie die doel ondersteun het, asook die hoofborg, CCOV (Caltex) Petroleum Distributors en Craig Stickling, Ebotse se pro-gholfspeler, wie die kompetisie gratis behartig het.
Vir verdere inligting oor die “Business Buffet Breakfast”, skakel 079 882 4766 of 082 496 1254.



