Jansen mik na glorie in Tuks Skolereeks se finaal
Die eerste rugbyspan van Hoërskool Dr EG Jansen het op 21 April by Hoërskool Menlopark deelgeneem aan die semi-finaal van die Tuks Skolereeks.

EG Jansen het Hoërskool Nelspruit met 69-26 geklop.
Jansen se spelers het reeds in die eerste halfte losgeskiet en Hoërskool Nelspruit plat gedraf om 47–14 voor te loop.
Dylan Schwartz, EG Jansen se senter, was ’n groot deel van die oorwinning.

Hy het alleenlik 29 punte aangeteken vir sy span, altesaam twee drieë, agt doelskoppe en ‘n strafdoel.
Ruben Beytell, die losskakel, asook Hugo Claassen, die heelagter, het ook beide dubbelle drieë gedruk.
Reinhardt Venter, die slot, en agsteman, Carson Koekemoer, het ook uitstekend deelgeneem.

Hoërskool Nelspruit het in die tweede helfte goed teruggeveg maar kon nie by die Jansies bly nie wat ’n verdere 22 punte aangeteken het.
Hoërskool Dr EG Jansen gaan in die finaal teen Hoërskool Monument meeding om te sien wie is die algehele wenners van die Tuks Skolereeks.
Hoërskool Monument het na die finaal deurgedring nadat hulle Garsfontein met 45-21 in die ander semi-finaal gewen het.
Die finaal gaan plaasvind op 6 Mei by Tuks, in Pretoria.

Puntemakers vir EG Jansen vir die wedstryd: Drieë – Dylan Schwartz (2), Ruben Beytell (2), Hugo Claassen (2), Carson Koekemoer, Dwayne Fourie, Ruan Kruger, Sheldon Rivabello. Doelskoppe – Schwartz (8). Strafdoel – Schwartz.



