Editor's choiceLocal newsNews

Familie moes self geliefde begrawe

Familielede van Marie Jenner dra ’n groot verbitterdheid in hul gemoed nadat die begrafnisondernemer hulle glo diep in die steek gelaat het toe die doodskis waarin haar lyk was, by die kerk gelos was.

Volgens die oorledene se seun, Willie Jenner, moes hulle toe met ’n gestruwel die doodskis in ’n private gesinsmotor laai en dit by die begrafplaas met ’n verdere gesukkel self by die tè klein gat laat insak en toegooi.

Marie was ’n jarelange Boksburg inwoner en is na ’n lang siekte oorlede.

Familielede het haar begrafnis deur Doves en Kloppers gereël en na wat verneem word, moes Jenner die oggend voor die diens die volle bedrag aan die ondernemer betaal en dit gedoen.

Dinge het egter vroeg begin skeefloop toe die ondernemer vir Jenner vra of hulle agter hom kan aanry, omdat hulle nie weet waar die AGS Kerk in Paul Smit Straat is nie.

“My nekhare wou toe al rys, want hoe kan hulle nie weet waar die kerk is nie – dit is hulle werk om te weet.”

Jenner het egter ingestem om vir hulle te wag.

Ongeveer 15 minute later, het hy nogsteeds gewag.

“Toe ek gaan kyk waar hulle so lank draai, sien ek dat hulle sukkel om die lykswa aan die gang te kry – hulle was doenig met jumpers.”

Die doodskis is toe maar met ’n kombi na die kerk vervoer, waar daar geworstel is om dit uit die kombi te kry.

“Om dinge te vererger, het hulle die begrafnispamflette by hul kantore vergeet en moes terugjaag om dit te gaan kry.”

Na die diens, was die lykswa reeds weg en familielede moes skarrel om ’n Hyundai Tucson se sitplekke af te slaan sodat die doodskis daarin kon pas.

By die begrafplaas, kon die familielede nie die doodskis in die gat kry nie, weens die staalraam wat te klein is.

Boonop, sê Jenner, was die kis ook nie eers behoorlik toe nie.

“Almal in die familie is erg getramatiseer. Ons as familielede voel ons kon nie eers ordentlik afskeid neem nie.”

Na wat verneem word, moet een van die oorledene se kleinkinders vir berading gaan weens hierdie onaangename voorval.

Die ondernemer het na bewering ook die kistrollie eers twee dae later by Jenner se suster, Hester Johnsson se werk opgetel.

Volgens Jenner, het Doves en Kloppers met hulle begin onderhandel oor ’n moontlike 100 persent vergoeding omdat hulle geen diens van hulle afgekry het nie, maar nog niks het daarvan gekom nie – nie eers ’n verskoning of ’n verduideliking.

“Vir my gaan dit nie oor die geld nie, maar hulle het nie eers die ordentlikheid om jammer te sê nie. Hulle wil nie verantwoordelikheid vir hul foute neem nie.”

Die Boksburg streekbestuurder van Doves en Kloppers, Thabani Msidi, het glo aan Jenner ’n ultimatum gestel en gesê dat hy egter aan hulle verskoning moet vra, aangesien hy die media van hierdie insident vertel het.

“Ek het vir hulle gesê dis my ma wat ek begrawe, dis nie ’n bees wat ek in die gat gooi nie. Dit is baie hartseer – hulle veronskuldig hulself van die begin af. Hulle het ons nie eers gebel en gevra hoe hulle ons kan help nie.”

Die Advertiser het Doves en Kloppers oor die voorval gekontak.

Heidi du Plessis wou nie kommentaar lewer nie en het ons na die streekbestuurder verwys.

Msidi het gevra dat ons hom later terugbel omdat hy glo besig was om te bestuur, maar het toe nie later sy selfoon geantwoord nie. – @IschkeBoksburg

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add Boksburg Advertiser as a Preferred Source on Google and follow us on Google News to see more of our trusted reporting in Google News and Top Stories.

Related Articles

One Comment

  1. Ek dink dis vreeslik….en baie sleg van Doves en Kloppers, darem het ek nou n heads up. Ek dink die family moet 100% gerefund word.

Back to top button