Bekende landskapargitek maak ’n draai by die Sarie Klub
Die klub is ’n nie-winsgewende organisasie vir werkende dames, onderwysers, professionele dames en moeders wat nie gedurende die dag by ander organisasies kan inskakel nie.
Bekende landskapargitek David Viljoen het op 10 September die Sarie Klub te De Bron Wedding & Conference Venue toegespreek.
David het oor die nuutste tendense in die tuin gepraat en het ook klimaatsverandering aangespreek.
“Dit is ’n werklikheid dat seisoene verander en dit is iets om oor baie bekommerd te wees. Die aarde word al hoe warmer en dit is hartseer dat in die Karoo sterf selfs diere van die dors en daar is niks vir hulle om te eet nie,” vertel David.
“Suid-Afrika is een van die armoedigste lande in terme van water. Die wêreld se gemiddelde reënval is 985mm per jaar en Suid-Afrika s’n is maar 492mm.”

Volgens hom is dit almal se verantwoordelikheid om water te bespaar.
Hy het selfs gaste aangemoedig om te dink aan hoe hulle water in die tuin kan bespaar en dinge kan hergebruik.
David het ook oor ons land se koolstofvoetspoor en indringer plante gepraat en verduidelik hoe hierdie plante water en diere beïnvloed.
“Indringer plante het al ongeveer 10 000 hektaar oorgevat.
“Indringer plante word ook in drie kategorië geïdentifiseer. Katerogie een is plante waarvan mense volgens wet ontslae moet raak. Kategorie twee is plante waarvoor jy ’n permit moet hê omdat mens dit nog soms in ’n boerdery of plantasie kan gebruik. Kategorie drie is plante wat jy mag besit, maar jy mag nie nuwes plant nie en geen kwekery mag hulle groei of verkoop nie.
“Kategorie een se plante bestaan uit kanna (wat saad produseer), lang-blaar basboom, katklou klimop, oleander (wat saad produseer), luisboom, lantana camara, Spaanse riet, naaldbos, pampasgras, pompom bossie, turksvy (met dorings), sekere granadilla, waterhiasint, motvanger en wilde rose wat saad produseer.
“Kategorie twee bestaan uit dennebome, swartwattelbome, witpopulierbome, bloekombom, kasuarisboom, treurwilg, koejawelboom, garingboom en die bosluisboom.”
“Kategorie drie bestaan uit die jakarandaboom, tipoeboom, skoenlapperorgideeboom, lukwartboom en selwereikboom.

Daarna het hy ook aan die gaste verduidelik waarom dit voordelig kan wees om jou eie plante en kompos te kweek.
Die Sarie Klub vergader een keer ’n maand en word deur verskeie kunstenaars en sprekers toegespreek. Hulle bestaan al sedert 1971.
Vir meer ingligting of om betrokke te raak by die klub skakel vir Susan Noppe by 083 268 7245.



