Kosie (8) bemeester reeds 13 musiekinstrumente
Op die ouderdom van agt het Kosie Beukes van Boksburg reeds 13 musiekinstrumente bemeester.

Dit sluit in die kitaar, Hawaiianse kitaar, baskitaar, banjo, mandolien, klavier, trekklavier, klawerbord, konsertina, orrel, vrot-orreltjie, dromme en die mondfluitjie.
Kosie was slegs vier jaar oud toe hy sy eerste musiekinstrument, die kitaar, baas geraak het.
Sy liefde en passie vir musiek stop egter nie net by die speel van die instrumente nie. Kosie het ook al sy eie liedjie, Kosie se vastrap, geskryf.
Net so indrukwekkend is dat hy ses jaar oud was toe hy sy eerste album, Kosie Beukes kielie die krismiswurm, opgeneem het.
Kosie neem ook sy eie liedjies op ’n program wat sy oupa Kobus Beukes vir hom op ’n skootrekenaar afgelaai het.
Daar word beplan om in die toekoms vir Kosie ’n studio by die huis in te rig waar hy kan musiek maak, want tans is die meeste van sy instrumente by sy oupa Kobus se huis.
Sy gunsteling genre om te speel is Boeremusiek, want “jy kan die meeste daarop dans,” het hy gesê.
Kosie se gunsteling boeremusiek is dié van oorlede Manie Bodenstein.
“Hy het baie mooi tradisionele musiek gespeel. Ek was een Woensdag by hom gewees terwyl hy nog so siek was en onder ’n kombers gesit het. Ons het Al lê die berge nog so blou saamgespeel. Dieselfde Vrydag is hy oorlede,” het Kosie gesê.
Kosie is ook ’n erelid by die Boeremusiekgilde van Suid-Afrika en tree gereeld by hul funksies op.
Hy neem geen musieklesse nie en werk vanself ’n liedjie uit deur daarna te luister en dit dan op die musiekinstrument te oefen.
“As die deuntjie by die kop is, is hy by die hande,” het Kosie gesê.
“Maar met die vrot-orreltjie wat ek gehad het, het dit nie so lekker gewerk nie. Ons het báie daarmee gespeel en toe sê ek, ‘Oupa, dis tyd – bring maar ‘n nuwe een’.
“En toe bring hy nou enetjie van Amerika af en die oomblik wat ek daai ding vat het ek gesê, ‘Pappa, bring daai kitaar laat ons jol’.”
Volgens Kosie kan geen van sy familielede ’n instrument speel nie, behalwe sy pa, Kobus, wat ’n bietjie musikaal is.
Maar hy voeg vinnig by dat hý die een is wat sy pa help.
Kosie vertel dat Jesus hom met hierdie talent geseën het.
“Ek is baie trots op hom. Partykeer is dit so onwerklik – dit is asof jy nie kan glo dat jou kind hierdie talent van God af gekry nie,” het Kosie se ma, Julia, gesê.
“Hy geniet sy musiek van so ’n aard dat ’n mens nie anders kan as om dit saam met hom te geniet nie.”
Volgens haar, is Laerskool Witfield, waar Kosie ’n Graad drie leerling is, baie ondersteunend en tegemoedkomend wanneer dit kom by sy optredes en skoolwerk.
Kosie meen dat sy vriende sy musiek like, maar dat die meisies vinnig jaloers raak.
Die konsertina is sonder enige twyfel Kosie se gunsteling musiekinstrument.
“Gewoonlik as ek die konsertina speel, maak dit die mense dans en dit maak my happy.
“Dit maak my lag, want ek lyk altyd so ernstig wanneer ek speel – maar as die mense begin dans dan maak dit my darem bietjie smile.”
Hy het hierdie musiekinstrument vir die eerste keer by oom Christo Wolmarans se huis aangeraak.
Volgens Julia was hy veronderstel om kitaarlesse by dié oom te neem, maar het natuurlik nooit daarby uitgekom nie, want hy het planne met ’n ander instrument gehad.
“Ek het die konsertina gevat toe sê my oupa ‘Nee, nee, nee, dis ’n baie, baie duur ding daai – los hom nou liewers uit,” het Kosie vertel.
Wolmarans het hom egter toegelaat om dié instrument te speel en het vir Kosie gewys hoe om die eertse drie note van Al lê die berge nog so blou te speel.
Ná hy dít vir die derde keer reggekry het, het hy die res van die liedjie self uitgewerk.
Die res is geskiedenis en binnekort pak Kosie sy tasse en konsertina om aan die Wêreldkampioenskap vir Uitvoerendekunste in Amerika, vanaf 5 tot 23 Julie, deel te neem.
Hy is gekeur nadat hy vier goue medaljes by die Suid-Afrikaanse Kampioenskap vir Uitvoerendekunste ingepalm het, asook as die junior kampioen gekroon is.
Kosie vertel met trots dat hy die Italiaanse liedjie Libiamo Ne Lieti Calici, deur Giuseppe Verdi, in die klassieke kategorie gespeel het.
Dit sal die eerste keer wees wat hy oorsee gaan reis, en volgens sy ma was dit vanaf sesjarige ouderdom Kosie se droom om Amerika toe te gaan.
Indien alles goedgaan, sal Kosie se ma en oupa Kobus hom na Amerika vergesel.
Kosie en sy konsertina het al vir Steve Hofmeyr en Bobby van Jaarsveld geopen.
Hy het ook al vantevore saam met verkseie kunstenaars opgetree, onder andere Pieter Smit, DJ Ossewa, Maroela Boom, Jakkie Louw, Jak de Priester, Thys die Bosveldklong, Pieter Koen, Dozi, en die Kannie Warries.
Hy het vertel dat hy glad nie skaam is om voor ’n gehoor op te tree nie, maar voor so een of twee mense voel hy baie skaam.
“As ek my konsertina vat, is ek vreesloos – maar wanneer ek moet staan en foto’s neem, is ek bietjie benoud en skaam,” het Kosie vertel.
Volgens Kosie se oupa, ploeg Kosie ook baie terug in die gemeenskap.
“Hy hou daarvan om vir liefdadigheid by kerke en ouetehuise musiek te maak,” het oupa Kobus gesê.
Wanneer Kosie nie besig is om sy musiekinstrumente te beoefen nie, skop hy bal, ry motorfiets, jag of vang vis.
Kosie hou ook graag van sing maar het gesê “dis nou nie eintlik vir shows nie, dis nou maar net vir die huis”.
“Ek wil graag lesse vat, maar ek kry net nie iemand wat my kan lesse gee nie. As ek sing, dan sal ek country sing.”
Wanneer Kosie ‘groot’ is, wil hy nie soos die meeste seuns van sy ouderdom ’n brandweer- of ’n polisieman word nie, maar ’n musikant.
“Ek wil graag by feeste en danse speel,” het hy gesê.
Of hy op sy eie wil speel óf deel van ’n orkes wil wees, is hy nog nie seker nie.
Sy volgende droom wat hy wil bewaarheid, is om vir Queen Elizabeth in Engeland konsertina te speel.
“Sy kan my dalk help met ietsie,” het Kosie gesê.
Volg Kosie op Facebook en Twitter.



