Inwoners met kinders moontlik gou op straat
Inwoners van sowat 12 huise in Skystraat, Cason, gaan hulself heel moontlik een van die dae sak-en-pak op straat vind nadat hulle onlangs ’n uitsettingsbevel van die Ekurhuleni Metroraad ontvang het.
Dié inwoners moet die hophuise waarin hulle tans woon teen die einde van die maand ontruim, omdat hulle nie die heffings op die eiendomme betaal nie, en hulle het glo nêrens om te gaan nie.
’n Dik dokument is reeds Donderdag verlede week, 6 Augustus, by hierdie gesinne afgelewer, wat stipuleer dat hulle teen 31 Augustus uit die eiendom moet wees.
Na bewering word meer as 12 gesinne hierdeur geraak; in sommige huise woon selfs meer as een gesin.
Vier van hierdie gesinne het om hulp kom aanklop by Marie Russell, eienaar van die Samaritaan Huis.
Uit hierdie vier gesinne is daar agt kinders betrokke, waarvan twee gestremd is.
“Waarheen moet hierdie gesinne nou gaan?” vra Russell.
“Hierdie is mense met geen inkomste – daar moet seker ’n wet wees wat mense beskerm. ’n Kind, ’n dier, en bejaardes het geen verweer teen ons wêreld nie.”
Russell voel dat die raad ten minste ’n alternatief aan hierdie gesinne moet gee van waarheen om te gaan.
“Gee hulle ten minste net ’n stukkie grond waar daar ’n toilet is en toerusting om ’n ‘shack’ op te sit.”
Sommige van hierdie gesinne woon al bykans 15 jaar in die hophuise waarin hulle tans is.
“In party huise woon die derde geslag van die gesin wat heel eerste daar gewoon het,” sê Russell.
“Die Ekurhuleni Raad het die hophuise in Villa Lisa en Vosloorus wat langer as 10 jaar deur dieselfde inwoners bewoon word, aan daardie persone gegee.
“Waarom kan hulle nie hierdie huise aan die mense in Sky Straat gee nie?”
Volgens Russell kry sy geen samewerking van die metroraad nie.
Die Advertiser het ook geen kommentaar van die raad rondom hierdie saak ontvang nie.
* Die Samaritaan Huis bedien die arm gemeenskap vir die afgelope 14 jaar.
Die organisasie help lede van die gemeenskap wat nie hulself kan help nie.
Indien jy bereid is om te help, die organisasie benodig die volgende items:
* Skêre
* Pritt
* Uitdraai vetkryte
* HB potlode
* Twee plastiek tafeltjies
* Klere van enige grootte
* Tweedehandse meubels
Die organisasie bied gratis voorskoolse opleiding aan minderbevoorregte kinders in die omgewing vir Graad R. Die skool benodig fondse om die voorskoolse opleiding sentrum oop te hou. – @IschkeBoksburg




