Local newsNews

Die swaar lewe van die haweloses

Elise Bosch en haar man, ds Pieter Bosch, doen vir bykans 23 jaar vrywillige werk onder die haweloses en armes in Hillbrow.

Elise is, onder andere, ’n motiveringspreker, sowel as ’n berader by die NG Kerk Constantiakruin, en reël vrouekampe.

Op 8 April het sy enkele ware verhale van haar gunsteling vroue in Hillbrow met die Oos-Rand Sakevroue, by die Birchwood Hotel, gedeel.

Sy het vertel van oomblikke wat haar emosioneel raak, en daardie oomblikke wat haar weereens laat besef waarom sy aanhou om hierdie brose Hillbrow-inwoners te bedien.

“Ná 23 jaar wat ’n mens die armes bedien, is dit steeds partykeer baie swaar,” het Elise gesê.

“’n Mens huil verskriklik, want jy is ’n ma en jy kom daar (in Hillbrow) en jy vra vir die Here hoe gaan ons hierdie situasie oplos?”

Volgens haar het ma’s en kinders wat swaarkry, sowel as prostitute, al oor hul pad gekom.

“Ek moet vir myself iewers ’n ligpuntjie in hierdie absolute poel van hartseer vind,” het sy gesê.

”Elke mens wat oor ons pad kom, glo ons, het Jesus vir ons gewys.”

Saartjie en Violet Rademan is Bosch se gunsteling bejaarde Hillbrow-tannies. Afkomstig van Kimberley, het dié tannies deur die krake van die sisteem geval.

Hulle het 12 kinders, maar almal is al lankal deur die welsyn weggevat.

Volgens Elise, kan hierdie twee dames nie eers lees of skryf nie, maar hier-en-daar doen hulle hul strykwerk.

“Ons het begin om hulle ook te help, maar hulle het gesê hulle wil nie in die ouetehuis wees nie, want dit is baie boring,” het sy gesê.

Een van die Hillbrow inwoners, Koos, het op die ou einde, teen die stadsraad se reëls, vir die tannies ’n sinkplaathuisie agter in sy erf gebou. Hulle is nou baie gelukkig met hulle sinkplaathuisie.

Saartjie en Violet maak elke dag Elise se dag.

“As ek ’n depressiewe oomblik ervaar het, dan gaan kuier ek by hulle; hulle is so oulik,” vertel sy.

“Die twee tannies bad en voer ook altyd die vrouens wat sterwend is.

“Saartjie hou daarvan dat iemand skoon is as hulle hemel toe gaan, en Violet probeer die laaste pap wat ek vir hulle gemaak het vir ‘n sterwende persoon inwurg.”

Elise vertel dat Saartjie en Violet ook glad nie op hul monde geval of skaam is nie.

“Hulle sê altyd vir my dat ons nie al die soft toys en speelgoed wat ons as skenkings kry aan die kinders moet gee nie – hulle soek ook daarvan vir hul huisie.

“Hulle hang die poppies in hul huisie, sit plastiek-goed in hul hare, en het soms 20 ringe aan 10 vingers – hulle gaan net crazy en ek is mal oor hulle, want ek leer so baie by hulle.

As deel van haar bediening, het Elise ’n bybelstudiegroep in Hillbrow begin. Onder andere woon ’n paar vorige prostitute die groep by.

“Ek het soms baie sports met my bybelstudiegroepie; om te lag oor dít wat ek in Hillbrow sien en ervaar is my coping mechanism,” het Bosch gesê. – @IschkeBoksburg.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add Boksburg Advertiser as a Preferred Source on Google and follow us on Google News to see more of our trusted reporting in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button