Local newsNews

Volkspelelaer nooi alle oudlede na feesvieringe

Die Inspan Volkspelelaer is vanjaar 50 jaar oud en is opsoek na oudlede om hierdie geleentheid saam te kom vier.

Die laer is op 13 Desember 1965 gestig en die eerste volkspele is in die Hoërskool Dr EG Jansen se saal gehou, onder leiding van Frans Nolte.

Hierdie entoesiastiese volkspelers het ook hulle eie toneelgroep op die been gebring, naamlik die Inspantoneelorganisasie.

Op 3 Maart 1967 het hulle die toneelstuk Die vonkel in haar oë, geskryf deur Gerhard Beukes, in die NG Kerk Boksburg-Oos, opgevoer. Dit was ’n blyspel in vier bedrywe.

“Só is die Afrikaanse kultuur, naamlik volkspele, sang en toneel, in daardie jare dan ook baie goed ontvang en ondersteun,” het die Inspan Volkspelelaer leidster, Ria Kasselman, gesê.

“Dis jammer ons het nie meer inligting van wat hierdie laer alles gedoen het nie.”

Verskeie leiers het ná Frans Nolte die laer gelei, onder andere Jan Greyling, Kobus Kasselman, Isak van Heerden, Chris Botha, Johan Marx, Hennie Kasselman en, vir die afgelope 31 jaar, Ria Kasselman.

Destyds is volkspelelaers op Saterdagaande, in ander dorpe en stede, per trein of bus besoek.

“Dit het baie bygedra aan die pret en plesier van daardie tyd, veral omdat dit veilig was om van hierdie openbare vervoer gebruik te maak,” het Kasselman gesê.

“Wanneer daar met motors gery is, het dit dikwels gebeur dat daar ná só ’n saamtrek sommer langs die pad onder ’n boom ’n vuurtjie aangeslaan is en ’n vleisie gebraai is.

“Wat kan dan nou lekkerder wees as ’n braaivleisie en koffie so langs die pad, onder die sterre?”

Deur die jare was daar baie optredes by kerke, skole en organisasies.

Liefdadigheidswerk het beslis ook nie agter gebly nie.

Datums vir twee reünies is bekendgestel:

* Saterdag, 16 Mei, om 9.30vm, wat ’n spogtee-geleentheid by die Laerskool Goudrand behels.

*Saterdag, 12 September, om 2nm, in die Boksburg Stadsaal. Daarna, om 5nm, word ’n massa volkspelesaamtrek in die Boksburg Stadsaal gehou, wat dan die halfeeu feesvieringe sal afsluit.

Die Inspan Volkspelelaer se bestuur is dringend opsoek na die name en kontaknommers van al die persone wat vanaf 1965 tot 2015 by die laer betrokke was.

Enige inligting, foto’s, koerant artikels, toekennings, ens., wat hulle vir die laer kan deurgee, word ook benodig.

“Die gedagte is om uitstallings te hou, kontak met oudvolkspelers te maak, vriendskapsbande te hernu, en sommer net saam te kuier,” het Kasselman gesê.

Oudlede wat die byeenkomste wil bywoon, moet vir Kasselman voor of op 28 April by 011 896 1961 laat weet.

Kontak haar ook vir alle ander navrae. – @IschkeBoksburg

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add Boksburg Advertiser as a Preferred Source on Google and follow us on Google News to see more of our trusted reporting in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button