Editor's choiceLocal newsNews

Baanbreker sal veg vir sy Christelike-etos

Laerskool Baanbreker in Parkrand gaan die saak van ’n organisasie, wat die skool verbied om Christelike gebruike uit te leef, teenstaan.

Die skool voel baie sterk om sy Christelike-etos te behou.

Dit is volgens die adjunk-hoof, Mike Paulsen, nadat dit vroeër die week ontbloot is dat hy een van ses skole is in ’n saak waar die voorsitter van die Organisasie vir Godsdienste-Onderrig en Demokrasie die hoogeregshof in Johannesburg vra om die skole van enige vorm van Christelike verwysing te verbied.

Die ander betrokke skole is Langenhoven Gimnasium in Oudtshoorn, Hoërskool Linden in Johannesburg, Hoërskool Oudtshoorn, Laerskool Garsfontein in Pretoria en Laerskool Randhart in Alberton.

Hans Pietersen vra die hof om die volgende Christelike gebruike by Laerskool Baanbreker te verbied:

* Die skool se missie wat binne ’n Christelike raamwerk opgestel is.

* Die weeklikse instelling om Christelike liedere te sing.

* Opening van skooldag met skriflesing en gebed.

* Sing van Christelike liedere.

* Die uitdeel van Christelike boekies.

* Die uitreik van T-hemde aan leiers met ’n Christelike kruis daarop.

Paulsen wil nie verdere kommentaar hieroor lewer nie, aangesien die saak nog nie afgehandel is nie.

Pietersen sê in hofstukke, dat sy hofaansoek is vir die beskerming vir alle leerlinge se grondwetlike regte.

Die organisasie verklaar die volgende punte as ongrondwetlik:

* Vir enige openbare skool om een godsdiens uit te sonder en voor te staan tydens godsdiensaktiwiteite by die skool of om hulself met ’n geloof te vereenselwig.

* Om van enige leerling te verwag om op enige wyse aan te dui of hulle enige geloof voorstaan en indien wel, watter geloof of om inligting by te hou van watter gelowe ook al ondersteun word.

* Om leerlinge te isoleer op grond van die godsdienste wat hulle voorstaan.

As gevolg van hierdie gebruike word daar, volgens Pietersen, inbreuk gemaak op verskeie konstitusionele regte van leerlinge.

Praag, die Pro-Afrikaanse Aksiegroep, wil ook dié organisasie se skending van godsdiensvryheid in die land teenstaan.

“Hierdie is die soveelste aanval op Afrikaanse skole wat deur twyfelagtige nie-regeringsorganisasies van stapel gestuur word,” sê die direkteur van Praag, dr Dan Roodt.

Volgens Roodt word sulke organisasies gewoonlik ook vanuit die buiteland, soos die VSA en Groot Brittanje, befonds.

“Dit gaan allermins oor die vryheid van leerlinge om te besluit watter geloof hulle wil aanhang, al dan nie.

“Dis maar net nog ’n manifestasie van Boerehaat of etniese haatgevoelens jeens Afrikaners wat sowel in taaldiskriminasie as plaasmoorde manifesteer.

“Die deels Christelike aard van Afrikaanse skole kan teruggevoer word na die CNO-skole wat kort ná die verowering van die Boererepublieke gestig is.

“Dit het gegaan om die behoud van Afrikaans en Afrikanergeskiedenis, terwyl daar in Engelse staatskole in Suid-Afrika destyds slegs Britse geskiedenis gedoseer is.”

Die burgerregte-inisiatief Afriforum het aangebied om die volle regskostes van skole met ‘n Christelike-etos te dra, sou diegene wat gekant is teen godsdiens in skole hulle dreigement uitvoer om dié skole in die hof te probeer dwing om op te hou om godsdiens op skool te beoefen.

Volgens die hoof van Afriforum se onderwysveldtogte, Carien Bloem, is dit onaanvaarbaar dat anti-godsdiens fundamentaliste, skole teiken om kinders te dwing om nie hul godsdiens te beoefen nie.

Bloem sê dit is ironies dat die anti-godsdiens fundamentaliste glo dat kinders nie onder dwang aan godsdiens blootgestel moet word nie, terwyl hulle nou hul anti-godsdienstige sienings op alle skole wil afdwing.

“Die benadering van die anti-godsdiens fundamentaliste is in sterk kontras met die beleid wat betrekking het op godsdiens wat reeds in skole geïmplementeer word, wat behels dat geen leerder gedwing word om deel te neem in enige godsdienstige aktiwiteit in skole nie,” voeg Bloem by.

Volgens die Laerskool Baanbreker se hoof, Tom Hoffmann, is die skool tans besig met strategiese beplanning oor die saak en die ses skole vergader Vrydag, 5 September met Fedsas (Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole) om te besluit of hulle die aansoek sal teenstaan en hoe dit hanteer sal word.

– @IschkeBoksburg

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add Boksburg Advertiser as a Preferred Source on Google and follow us on Google News to see more of our trusted reporting in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button