Praag stuur van stapel TV-lisensieboikot
Die Pro-Afrikaanse Aksiegroep (Praag) het aangekondig dat sy beweging voortaan die betaling van TV-lisensies gaan boikot.
“Dit geskied nie soseer in reaksie op die aanstelling van ‘n nuwe bedryfshoof nie, maar weens die volgehoue margninalisering van Afrikaanse programme, asook die naakte Boerehaatpropaganda wat soms uitgesaai word,” sê Dr Dan Roodt van Praag.
“Waarom moet ons betaal vir ‘n medium wat sowel Afrikaans- as Afrikanervyandig is?”
Praag ondersoek tans die verskillende metodes waarmee mense gehelp sal word wat moontlik deur die SAUK se skuldinvorderingsagentskappe geteiken sal word.
“Ons is oop vir voorstelle,” meen Roodt.
“Dit kan enigiets wees van die soort anargistiese metodes wat destyds in Amsterdam gebruik is toe ‘n vereniging jou boetes vir jou betaal het as jy gevang is dat jy sonder ‘n kaartjie op die trems ry.
“As mense ‘n lasbrief vir beslaglegging ontvang, mag ons dalk hul lisensies vir hulle betaal. Of dit kan ‘n grondwetlike hofsaak behels waarin ons sal argumenteer dat ons van die SAUK se gehoor uitgesluit is en daarom nie hoef te betaal nie.”
Daar is op dié stap besluit nadat Praag oor ‘n tydperk klagtes ontvang het van lede van die publiek wat geen sin daarin sien om langer TV-lisensies te betaal nie.
“Daar is ook groot geesdrif vir die idee dat ons alternatiewe vorme van vermaak op die internet moet skep, met YouTube-besprekings in Afrikaans, Afrikaanse films en dergelike meer,” sê Roodt.
“Dit kan ‘n hele avontuur word.”



