Local newsNews

Oosthuizen vyfde keer tot Boksburg Rotary president verkies

Dana Oosthuizen is vir die termyn 2014/15 vir die vyfde keer aangestel (nie agtereenlopend) as die president van die Boksburg Rotary.

Die vorige president, Terry Phasey, het die lysels Woensdagaand, 25 Junie, aan Oosthuizen oorhandig.

Oosthuizen is die eienaar van Hyper Poles en is al vir 17 jaar betrokke by dié plaaslike Rotary klub.

Hy sê dat hy ‘n toegewyde deelname aan die klub en die gemeenskap gehad het deur die jare.

Wat wel so bietjie verander het, is die fokus van die klub. “Dit hang af van die president waar die klub die nodige bystand lewer,” sê Dana.

Die klub is vanjaar 79 jaar oud en bestaan tans uit 12 lede.

Dana streef daarna om die klub se ledetal binne die volgende jaar uit te brei.

Hy wil dus graag vanjaar konsentreer op die bewusmaking van die klub in die gemeenskap en aan die einde van sy termyn as president, wil hy ten minste 20 klublede hê.

Die klub sal ook graag jonger lede verwelkom.

“Die klub is veronderstel om pret te wees – dit gaan nie net oor ernstige, vervelige finansiële byeenkomste nie,” sê Dana.

“Ons benodig die jonger generasie om die klub vorentoe te neem.”

Volgens hom, konsentreer die Boksburg Rotary hoofsaaklik daarop om hulp te verleen aan die jeug en behoeftige bejaardes, maar help ook graag waar daar ‘n nood ontstaan.

“Ongelukkig kan ons nie almal help nie – maar sodra ons ’n positiewe verskil in iemand se lewe gemaak het, voel ek ons het ons doel bereik.”

“Ek sal tevrede wees met wat ons bereik het as ons wel ons woord nakom en help by die projekte waarby ons ‘n belofte gemaak het.”

Die klub is veral betrokke by opvoedkundige projekte en is tans betrokke by die Muriel Brand Skool in Brakpan en was al voorheen betrokke by die Louwna Kruger- voedingskema en die Teddy Bear-kliniek.

“Solank daar ’n geldige rede is waar mense hulp verlang, sal ons hulle help waar ons kan,” sê Dana.

Hy moedig die gemeenskap aan om betrokke te raak by Rotary.

“As jy iets kan doen vir ’n minderbevoorregte en jy sien dit maak ’n verskil en verbeter sy lewe, dan kry jy ’n diep tevredenheid.”

Die klub vergader elke Woensdag om 5.30nm by die Boksburg se rugbyklub.

Belangstellendes kan Dana by 082 892 5503 kontak. – @IschkeBoksburg

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add Boksburg Advertiser as a Preferred Source on Google and follow us on Google News to see more of our trusted reporting in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button