Kerk hou middagtee met Corlea Botha
Die welbekende sangsensasie, Corlea Botha, gaan binnekort die inwoners van Boksburg kom betower met haar ongeëwenaarde verhoogspersoonlikheid en unieke sangtalent.
Die NG Kerk Van Dyk Park, Boksburg, nooi die gemeenskap om hierdie gesellige geleentheid op Saterdag, 7 Junie, om 2nm by te woon.
Volgens Ronell Swanepoel hou die gemeente jaarliks ’n middagete vir die hele gesin om fondse in te samel vir die kerk, en sowel ’n ontspannende tyd te hê.
“Hierdie middagtee is ’n totale gemeentepoging. Spog eetgoedjies word deur die gemeente se eie baasbaksters voorsien.
“Elkeen van ons gemeentelede wat betrokke is by ons Bybelstudie, gratis teetuin of weeklikse gemeente aktiwiteite, help om die saal en voorbereidings baie noukeurig gereed te kry vir hierdie spesiale middagtee. Dis ’n wonderlike saamwerk-geleentheid vir ons almal.”
Corlea is een van Suid-Afrika se veelsydigste en gesogste kunstenaars, en volgens Swanepoel, is dit vir die gemeente uiters belangrik om bekende kunstenaars van kwaliteit en gewildheid te nooi wat die gemeenskap kan verryk en seën met hul talente.
“En waar sal jy nou beter kry as hierdie sangsensasie met haar fantastiese persoonlikheid en ongelooflike verskeidenheid musiek waarmee sy ons gaan kom verras. Moenie hierdie geleentheid misloop om Corlea Botha in persoon te beleef nie.”
Corlea beweeg tussen ligte klassiek en opera, pop en rock, country, jazz en blues tot geestelike musiek.
Na die vertoning kan gaste gesellig verkeer terwyl hulle ’n vingerete geniet.
Vir verdere besonderhede, kontak Swanepoel by 082 774 5443.



