Local newsNews

Kerk vier vyftigste bestaansjaar met groot makitie

NG Kerk Witfield Wes gaan binnekort die gemeente se vyftigste bestaansjaar met ’n groot makitie vier.

Die gemeente het op 2 Junie 1964 van die moedergemeente, NG gemeente Witfield, afgestig omdat hierdie gemeente te groot geword het.

Daar is onmiddellik grond gekoop vir ’n pastorie, kerk en saal.

Die kerk se bemarkingskoördineerder, Werner Müller sê dat die ingebruikneming van die kerkgebou op 26 Mei, 1973, was sekerlik dié hoogtepunt van die gemeente tot dusver gewees.

“Die gemeente bring hulde aan al die predikante wat in hierdie kerk die Here gedien het. Elkeen van hulle het hulle besondere gawes na die gemeente gebring tot eer van God,” sê Müller.

Volgens Müller is Witfield Wes ’n baie sending-bewuste gemeente en is veral aktief betrokke by die Waverley Sorgsentrum en ook in die Filippyne.

“Die diens aan minderbevoorregtes het ook nie agterweë gebly nie. Die gemeente het betrokke geraak by Die Rooihuis waar ’n groep seuns finansieël en geestelik ondersteun word.”

Voorlopige beplanning vir die feesvieringe loop sterk.

Volgens Müller word ’n hele week se verrigtinge beplan om hierdie mylpaal in die kerk se bestaan te vier en alle belangstellendes word uitgenooi om dit by te woon.

“Op hierdie manier dien die hele gemeente saam die Here. Ons wil Hom ook loof en eer vir die afgelope 50 jaar en lê die toekoms van hierdie gemeente in sy hande,” sê Müller.

Die gemeente beoog om die feesvieringe af te skop op Maandag, 26 Mei, met ’n dankdiens vir die kerkgebou wat dan 41 jaar oud sal wees.

Die fees word ook dan met die Pinkster-bidure op Dinsdag en Woensdag (27 en 28 Mei) gekombineer.

Op Donderdag, 29 Mei, word die Hemelvaart-diens deur die Susan Badenhorst Voortrekker-kommando en die Witfield Evangeliese Netwerk-gemeentes bygewoon.

Joe Niemand gaan op Vrydag, 30 Mei, by die Pinkster Protestante Kerk in Beulah Park optree. Kaartjies is beskikbaar by die Witfield Wes kerkkantoor.

Op Saterdag, 31 Mei, gaan daar om 8vm ’n vroeë biduur in Hoërskool Goudrif se skoolsaal gehou word.

“Die gemeente het destyds hierdie saal gebruik voordat die kerk gebou is,” sê Müller.

Na die biduur is daar ’n vlaghysing deur die Voortrekkers, boeresport, potjiekos-kompetisie, ’n hondeskou en ’n onthou-jy-nog-konsert by die kerk. Die aand is daar ’n sokkie-jol vir die jeug.

Op Sondag, 1 Junie, word die nagmaal saam met twee voormalige leraars gevier.

Die verrigtinge word afgesluit met ’n dankdiens op Maandag, 2 Junie, om die gemeente se 50ste verjaarsdag.

Vir verdere inligting kan die kerkkantoor op 011 826 4139 geskakel word.

Huidige leraar van NG kerk Witfield Wes, ds Dirkie van den Berg Enderstein, saam met sy vrou Ria Enderstein.
Huidige leraar van NG kerk Witfield Wes, ds Dirkie van den Berg Enderstein, saam met sy vrou Ria Enderstein.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add Boksburg Advertiser as a Preferred Source on Google and follow us on Google News to see more of our trusted reporting in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button