Local newsNews

VF Plus gekant teen diskriminasie teen vroue

Die VF Plus is gekant teen enige vorm van diskriminasie teen vroue en glo daar moet gelykheid tussen mans en vroue wees solank meriete steeds die kriterium bly met aanstellings en bevorderings.

Dit is die siening van die VF Plus-hoofsweep, dr Cornè Mulder.

Mulder het Dinsdag, Maart 4, met die tweede lesingsdebat van die Wetsontwerp op die Bemagtiging van Vroue en Geslagsgelykheid gesê mense raak moeg vir die sogenoemde beloftes wat die regering maak.

Volgens Mulder het die regering nie daarin geslaag om al die land se inwoners te laat saamwerk nie, en nou probeer hulle dit met hierdie wet doen.

Sodoende wil die regering met hierdie wet dit bewerkstellig dat ’n jong seun, vroue en dogters respekteer.

“Jy het nie ’n wet nodig om jou kind respek te leer nie. Doen dit net,” sê Mulder.

“Jy kan sekere dinge nie met wette regkry nie. Daar kan ’n wet gemaak word wat sê die son moet in die noorde opkom en in die suide ondergaan, maar dit sal nie gebeur nie.”

Mulder het ’n paar vroue as voorbeeld van meriete uitgesonder en gesê Nkosazana Dlamini-Zuma het die top-posisie in die Afrika-Unie bereik.

Geraldine Fraser-Moleketi beklee ’n senior posisie in die Verenigde Nasies en Maria Ramos by Barclays Africa.

“Hulle het dit op meriete bereik.”

Volgens Mulder, as hierdie wet deurgaan, sal vroue nie weens meriete in hoë poste beland nie.

Mulder beweer dat die regering probeer om die onmoontlike met hierdie wet, deur die parlement en die stelsel, te vermag.

“Jy kan sekere goed nie afdwing wat normaal moet gebeur en wat in die hart en verstand van alle Suid-Afrikaners moet wees nie. Dit gaan oor blote vertoon (window dressing).”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add Boksburg Advertiser as a Preferred Source on Google and follow us on Google News to see more of our trusted reporting in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button