Sing ’n lied saam Gè Korsten
Wie sou ooit kon raai dat die akteur en operasanger, Gè Korsten, sowat 14 jaar na sy dood ’n paar duette met sangers soos Nianell, Steve Hofmeyr, Manie Jackson, Corlea Botha, Rina Hugo en Joe Niemand sou kon opneem.

Bande wat omtrent 32 jaar gelede deur Gè opgeneem is, is in ’n ou ateljee ontdek en herskep in ’n paar duette in Kom sing ’n lied – In Duet saam Gè Korsten.
“Dit was ’n moeilike besluit om op die kunstenaars te besluit. Met Gè as tenor, is daar net sekere vroue-kunstenaars wat ek kon kies wat sou pas by die sleutel waarin hy sing. Soos Nianell, Rina en Corlea,” sê produksieleier en ou-platebaas, Boet Pretorius.
Die album open met Gè en Corlea wat Kom Sing Nou ’n Lied uitvoer.
Buiten die reeds genoemdes, lewer Carike Keuzenkamp, Kris Jay, Derick Ellis, Manie Jackson en Rocco de Villiers ook bydraes, terwyl Gè die liedjie, O Vader, op sy eie sing.
Bekende liedjies wat op die album voorkom is onder andere Jerusalem, Stille Nag, Kom Herwaarts Getroues en Psalm 23.
Die duet-opnames sal aanhangers met nuwe respek na Gè laat luister en kyk.
Met Kom sing ’n lied – In Duet herleef Gè Korsten soos nog nooit tevore nie.
Dit is ’n album wat aanhangers diep sal roer; met ’n eietydse aanslag en tydlose bekoring wat Gè se sang deur die dekades steeds uniek en vars maak.



