Afrikaans my taal verkrag deur Departement van Onderwys
Die uiters swak Afrikaanse vertaling van voorgeskrewe handboeke van skoolleerlinge is ’n belediging vir alle Afrikaanssprekendes, sê Amanda de Lange, Vryheidsfront Plus Gauteng mediawoordvoerder.

“Dit is skreiend dat Afrikaans op dié manier verkrag word. Ons land se ontoereikende onderwysstelsel en tekort aan handboeke is vir ’n geruime tyd reeds ’n groot bron van kommer en verleentheid,” voeg sy by.
“Die minister van onderwys, Angie Motshekga, is vol beloftes en verskonings en is skynbaar die enigste persoon wat glo sy en haar departement presteer na wense.
“Die werklikheid spreek egter van swak leiding, swak onderrig standaarde en ’n ontoereikende onderwysstelsel.”
Die Vryheidsfront Plus is egter van mening dat die Suid-Afrikaanse onderwysstelsel op ministriële vlak reeds tekort skiet.
De Lange voeg by, dat daar jaar-na-jaar voortslepende probleme is, wat nie behoorlik aangespreek word nie, en wat ’n geweldige negatiewe houding onder skoolkinders teweeg bring.
“Dit is maklik om leë beloftes aan mense te maak, maar dit verg ’n ware leier en ’n bekwame span om daad by die woord te voeg,” sê De Lange.
Die voorbeeld van ’n uiters swak vertaalde handbook is soos volg: “Vroue as gevolg van hul biologiese eienskappe is ontwerp deur die natuur spesefieke biologiese en reproduktiewe rolle soos die uitvoering van swangerskap, gee geboorte en borsvoeding om babas te voer. Mans se biologiese reproduktiewe rol is om die ovum wat verseker, dat swangerskap vind plaas te bemes.”
De Lange sê hieroor: “Ons is woedend oor die roekelose en minagtende vertaling wat deur die departement van onderwys en die regering aan leerlinge opgedis word.
“Die feit dat die woord ‘bemes’ in die konteks hierbo gebruik is, dui daarop dat die vertaler geensins Afrikaans taalkundig is, of gekwalifiseerd is om vertaalwerk te doen nie en duidelik ook nie Afrikaans magtig is nie.”
Volgens die Vryheisfront Plus, is dit dus verstaanbaar dat tuisonderrig deur geakkrediteerde privaat instansies deesdae so gewild raak, en dat daar al hoe meer privaat skole die lig sien.
“Dit druis teen elke kind se menseregte in om nie die beste onderrig te ontvang waarop hy of sy geregtig is nie,” sê De Lange.
“Swak onderrig het ’n wesenlike en verreikende impak op ’n land se sosio-ekonomiese klimaat. Suid-Afrika se buitensporige hoë kriminele statistieke is maar een van die gevolge van swak en ontoereikende onderrig.”
De Lange meen dit is ‘n vernedering vir elke trotse Afrikaanssprekende kind om onderhewig te wees aan sulke swak vertaalde leerstof, en dit benadeel hulle werksprestasie.
“Elke leerling is geregtig op ordentlike en goeie kwaliteit onderrig materiaal,” sê sy.



