Eretoekenning vir country legende Lance James
Die Carnival City Afrikaanse Musiekfees en Lefra Produksies het onlangs ‘n eretoekenning aan Lance James oorhandig.
Hierdie toekenning is deur die hoofuitvoerendebeampte van Lefra Produksies, Frans Swart, tydens Afrikaanse Musiekfees 12 aan Lance James gemaak, vir meer as 50 jaar toewyding aan Afrikaanse musiek.
Meer as 19 kunstenaars het by musiekfees opgetree.
Swart het tydens die oorhandiging van die eretoekenning gesê dat James die “gentleman” van die bedryf is.
“Ek ken vir Lance James vir langer as 46 jaar, en in daardie tyd het ek maar net beleef hoeveel integriteit hy het. Hy het ongelooflik baie beteken vir die ontwikkeling van country-musiek in SA.
“Sy radioprogram is alreeds vir langer as 50 jaar op die lug. Lance het dan ook ongelooflik baie beteken vir die ontwikkelling van Afrikaanse musiek.”
James het in sy bedankingstoespraak gesê dat dit ‘n besondere eer is dat Lefra Produksies ook op hierdie manier erkenning aan hom gee.
“Lefra Produksies doen ongelooflik baie om Afrikaanse musiek en teater in Suid-Afrika aan die gang te hou. Daarvoor sê ek baie dankie. Maar dan wil ek werklik baie dankie sê aan my mede-kunstenaars wat vir my ondersteuning gegee het oor baie jare.”
Hy het ook die Afrikaanse publiek bedank vir hulle ondersteuning:
Die eretoekenning is die vorm van ‘n potloodskets van James. Die kunstenaars was Hanolet Uys en Hannelie Swart.



