Geniet Geloftediens te Klipkerk op Versoeningsdag
Na die Geloftediens kan daar gesellig saam verkeer word met ’n gratis koppie koffie of tee wat deur die dames van die NG Kerk Boksburg-Suid aangebied word.

Reeds etlike dekades is dit die gebruik in Boksburg om op 16 Desember ’n Geloftediens te hou waar belangstellende lidmate van al die kerke in en om Boksburg welkom is om dit by te woon.
So kry die leraars van die verskillende Afrikaanse kerke om die beurt die geleentheid om die jaarlikse Geloftediens waar te neem.
Volgens Davie van der Merwe is goeie samewerking in hierdie verband nog altyd verkry en die ondersteuning van hierdie geleenthede deur die verskillende kerke se lidmate verblydend en die opkoms besonders goed.
“In die vroeë 1960s is daar met die aanbieding van die Geloftedienste afgeskop deur dit vroegoggend om 5vm te Prince George Park se sportterrein aan te bied,” sê Van der Merwe.
“Vanaf 2001 toe die terrein nie meer vir hierdie doel beskikbaar was nie is die verrigtinge in die skoolsaal van Hoërskool Dr EG Jansen voortgesit.
“Vanaf 2004 word die Geloftediens jaarliks by die geskiedkundige NG Kerk Moedergemeente (Klipkerk) in Voortrekkerstraat aangebied.
“Vanjaar word die geloftediens weer op 16 Desember om 9vm hier aangebied en sal pastoor Derek van Zyl van die AGS Lighuis Kerk, Witfield, die diens lei. Sy preektema is ‘In Gesprek met God’.
“Daar gaan vooraf hartlik saamgesing word uit liedere wat in ’n gratis program ingebind is. ’n Kollekte sal na afloop van die erediens opgeneem word vir die Klipkerk Bewaringsfonds.
“Kom laat ons uitvoering gee aan die Gelofte wat deur ons voorouers afgelê is en dat ons dit aan ons kinders sê dat hulle met ons daarin moet deel tot nagedagtenis ook vir die opkomende geslagte.
Vir meer besonderhede skakel Van der Merwe by 011 826 2716 of 082 488 3791.



