
Ruan Bronkhorst(16), ’n Graad 10 leerder van Hoëskool Dr EG Jansen, het onlangs ten spyte van ’n lastige kniebesering uitstekend gevaar by die Suid-Afrikaanse Senior Kampioenskappe se tienkamptoernooi wat by die Germiston Stadion gehou is.
Hy het deur die jaar 5 500 punte verwerf en kon so kwalifiseer om aan die tienkamptoernooi deel te neem, ’n mylpaal wat deur min bereik word.
By die toernooi het Ruan aan die 100m, verspring, gewigstoot, hoogspring, 400m, 110m hekkies, diskus, paalspring oor twee dae deelgeneem en het met ’n silwermedalje weggestap toe hy ’n algehele tweede plek gekry het.
“Dit was vir my ’n uitdaging om in al hierdie verskillende toernooie deel te neem, maar ek het dit vreeslik geniet. Ek het bly fokus op hoogspring en verspring omdat dit altyd my gunsteling items sal bly,” vertel Bronkhorst.
“Ek het my bes probeer om ten minste op dieselfde standaard as die ander atlete te bly. Dit was byna onmoontlik om tyd en aandag te skenk aan al die items waarin ek nie spesialiseer nie.
“Ek moet erken dat my besering my aanvanklik benoud gemaak het, maar gelukkig kon ek op my ongelooflike afrigter, Sonette Sanders, wat soos ’n tweede ma vir my is, staatmaak. Ek doen die strekoefeninge wat my fisio aanbeveel en ek maak seker dat ek die spesiale atletiekbande dra wat hy aanbeveel het.
“Die wonderlike produkte wat FitGen aan my verskaf het, het my ook baie gehelp.”
“Hy is ’n uitstaande atleet en glo beslis dat sy droom om eendag aan die Olimpiese Spele deel te neem, haalbaar is,” sê Stefan Blunden, ’n afrigter van Hoërskool Dr EG Jansen.
FOLLOW US:
For more #hyperlocal news at your fingertips, visit Benoni City Times, Springs Advertiser, Brakpan Herald, African Reporter and Kathorus Mail



