Die Sarie Klub op reis na gelukkige vrouwees
Die Oktober Sarie Klub se byeenkoms by die Lakeview Hotel het met ’n feestelike tema van vakansie afgeskop. Met tafels gedek in pragtige skakerings van wit en blou met ’n titseltjie goud en seeskulpe het die vroue oor daardie droomvakansies gesels.
Met die son wat nou weer lekker skyn en vakansietyd wat nader kom, is die Sarie vroue opgewonde oor nuwe reise op die horison.
Benieta Cloete, Sarie Klub lid het die aand met opening begin en die lede herinner aan die vrug van die liefde wat aanhoudend groei, en dat die liefde oral teenwoordig moet wees.
Die lede en hul gaste is verwelkom en die maand se verjaarsdae is ook saam met lief en leed gedeel.
Nolene Seville, van Nolene’s Travel, het die Saries kom vertel van wonderlike vakansieplekke soos Mauritius en die gaste gewys hoe om lig in te pak met interessante wenke wanneer dit kom by inpak en voorberei vir ’n heerlike vakansie.

Nolene vertel hoe sy al meer as 55 lande besoek het en hoe ’n vakansie na ’n verre land jou lewe kan verander.
Die Saries het geleer wat om te pak en wat om te los, hoe om meer as 25 verskillende uitrustings saam te stel met net 10 kledingstukke.
“Dit word nou mode om lig te pak. Niemand wil sukkel met groot tasse op vreemde plekke nie. Dit is onnodig,” sê Nolene.
“Dit is ook baie belangrik om navorsing te doen voor jy begin pak. Waarheen gaan jy? Hoe lyk die weer? Wat gaan jy daar doen? Wat is die kulturele beperkings van jou bestemming?” sê Nolene.

Nolene se suster, Michelle, het die vroue ook meer vertel van interessante geskenke wat oorsee gekoop kan word. Drie lede het ook van hierdie geskenke gewen.
Die gaste het heerlik gesmul aan vis en phyllo voorgereg, kookkos buffet en aarbeikaaskoek vir nagereg.
Sarie Klub is ’n groep dames wat vir mekaar omgee en deel in die goeie en slegte tye. Die Saries vertel graag vir mekaar van hul familie en vriende en bou mekaar op terwyl hulle saam reis na suskesvolle en gelukkige vrouwees.
“Ons wil graag dames in die area nooi om by die Sarie Klub te kom aansluit. Ons is altyd opgewonde om nuwe lede te verwelkom,” sê Susan Noppe, voorsitter.
Die volgende Sarie Klub byeenkoms vind op 20 November plaas.
Om die geleentheid by te woon of om by die Sarie Klub aan te sluit kontak Susan Noppe by 083 268 7245 / 011 849-0434.
LEES OOK:
Sarie Klub geniet byeenkoms en modes |
Follow us:
For more #hyperlocal news at your fingertips, visit Benoni City Times, Springs Advertiser, Brakpan Herald, African Reporter and Kathorus Mail.



