Plaaslike huiseienaars vat hul goed en trek
Vivian van der Meer se eiendom in Beyers Park het onlangs ’n nuwe baadjie gekry, te danke aan KykNet se Vat Jou Goed en Trek-span, tesame met Lynne Heger en Juanita Louw van Re/Max Randgro Boksburg.
Die Vat Jou Goed en Trek-span help families om binne 72 uur die waardes van hulle eiendomme te lig en hul huise te verkoop.
Om deel te wees van dié program moet die eienaar sy eiendom wil verkoop en bereid wees om enige veranderinge aan die eiendom te laat doen wat KykNet besluit om te doen.
Die eiendomme wat ietwat sukkel om verkoop te word, word dus opgeknap deur ’n span kundiges voordat dit weer in die mark geplaas word.
Die hoofdoel is om die huis meer aanloklik vir kopers te maak en die waarde van die eiendom te verhoog.
By Van der Meer se Boksburg huis is die sitkamer, eetkamer en kombuis ’n meer moderne aanslag gegee.
“By die kombuis het ons ’n moderne plaas gevoel probeer skep en die ander twee vertrekke het ’n meer warm, moderne gevoel,” vertel Louw.
Voorheen was daar rou baksteenmure in die sitkamer en kombuis “wat lank terug in die mode was, maar nie meer is nie”.
Daardie mure is nou gepleister en met Duram Desert Sand kleur, wat ’n aardse ligte bruin kleur is, geverf. Dit was eers ’n oudtydse room kleur gewees.
Die knotty pine ceilings en knotty pine gordynkappe is ook oorgeverf en lyk ook baie meer modern.
In die kombuis was die oond bo-op ’n kas, heeltemal aan die anderkant van die kombuis as wat die stoof was, wat baie onprakties was.
Die oond is geskuif na onder die stoofplate soos wat dit moet wees.
Volgens Louw is die huis nou meer huislik, maar modern.
“Dit was ’n groot uitdaging en baie harde werk, maar die KykNet span was baie voorbereid en het ’n uitstekende werk gedoen.
“Dit is ’n voorreg om ’n Boksburg eiendom op nasionale TV te laat verskyn.”
Die eiendom is nogsteeds op die mark.
• Die episode van Vat Jou Goed en Trek waarop Vivian van der Meer se huis in Beyers Park verskyn sal op 27 Oktober om 5.30nm op KykNet kanaal 144 uitgesaai word. Moet dit nie misloop nie!




