Vier fees saam Boksburg Inspanlaer
Boksburg se Inspan Volkspelelaer is vanjaar 50 jaar oud.
Danksy die sterk leiers wat in die half eeu aan die stuur was, is dié laer nog sterk aan die gang.
Na die volkspelelaer se geslaagde reünie in Mei, waar daar ongeveer 30 oud-lede bymekaar gekom het, kom die tyd nou nader vir die landswye verjaardag saamtrek.
Die tweede reünie word saam met die landswye saamtrek in die Boksburg Stadsaal op 12 September gehou.
Volgens die Boksburg Inspanlaer leier, Ria Kasselman, het die laer vele hoogtepunte beleef die afgelope 10 jaar.
Mylpale wat uitgesonder kan word sluit in optredes by die Anglo-Boere Oorlogfees in Sabie; die laertoer deur Namibië; die ontvang van groepe uit Duitsland, België, Nederland, Oostenryk en Switserland; deelname aan die 1988 Diazfees te Mosselbaai; Boksburg se 1987 eeufees; Volkspele-beweging se 100 jaar feeste te Boshoff en Bloemfontein in 2014 sowel as verskeie buite- en binnelandse toere waaraan laerlede deelgeneem het.
“Eintlik is elke geleentheid waar Inspan betrokke was, ’n hoogtepunt,” het Kasselman gesê.
Volgens haar is die voedingsbron van die Volkspele die jeug.
“Kursusse, vertonings en afrigting by skole is ’n groot prioriteit, want dit bevorder die Volkspelekultuur. Die jeug is wel deeglik betrokke by bestaande geaffilieërde Volkspelelaers regoor die land. Dis ook waar hulle as geregistreerde junior Volkspelers gehuisves word.
“Volkspele vind wel nog op skole-vlak plaas in die vorm van kursusse wat deur die Afrikaanse Volksang en Volkspele-beweging (AVVB) aangebied word. Die kinders word deur die AVVB gekeur in die verskillende Volkspele streke om so ’n kursus by te kan woon.”
Die kursus bestaan uit groepe leerders, naamlik die Judith Pellissier graad ses en sewe groep, die vormingsweek graad agt en nege groep en die SH Pellissier graad 10, 11 en 12 groep.
“Elke groep het sy eie kursus-, sang- en klavierbegeleier,” het Kasselman verduidelik.
“By hierdie geleenthede word die leerders se leierseienskappe ontwikkel en ook die korrekte Volkspelepassies en grepe aangeleer. Gedurende die laaste week in die Julie vakansie, het hierdie drie groepe in Nylstroom, oftewel Modimolle, in die Bosveldstreek saamgekom vir ’n vyf-dag opleiding.”
Volgens Kasselman word saamtrekke gereeld regoor die hele land bygewoon.
“Inspan het dan ook vyf jaar gelede met ’n mini-marathon van 12 ure deur die nag begin, wat groot byval vind by ander laers. Dit vind elke jaar in Januarie plaas.”
Kasselman het gesê die laer het groot planne vir 2016.
“Eerstens, om meer sigbaar te wees en sodoende Volkspele te bevorder en tweedens, om kontak te maak met ander instansies, organisasies en veral die jeug van Boksburg.
“In ’n vinnig veranderde wêreld wil Inspanlaer sy deel bydra om Afrikaans te bevorder en die mooi van ons kultuur, naamlik Volkspele, te bewaar.”
Daar is nog heelwat oud-laerlede wat nie opgespoor kon word nie, insluitend Rytjie Nolte, van wyle Frans Nolte, wie die eerste laerleier was. Vir meer inligting of as jy weet waar om Nolte op te spoor kontak Kasselman by 011 896 1961.



