Steunpilaar van stad oorlede
'n Steunpilaar van Boksburg, Frans Valentine (72), is op 1 Maart oorlede.

Valentine het as raadslid (NNP) in die Boksburg Stadsraad van 1995 tot 2000 gedien, en was ook ‘n raadslid (NNP/DA/ANC) van die Ekurhuleni Metro.
Hy het as verkeersman in Boksburg van 1976 tot 1991 as verkeersman in Boksburg gedien, en was hy ook in die 1990s ‘n aanklaer in die Verkeershof.
Verder was Valentine by die NG Kerk Boksburg-Suid betrokke gewees, het hy op die beheerraad van Laerskool Baanbreker asook Hoërskool Voortrekker gedien, was hy lid van die Boksburg Jukskei Klub (2009 tot 2014) asook ‘n lid van die Suid-Afrikaanse Woonwa Assosiasie (het selfs in die vroeë 1980’s ‘n skou vir SAWA by die Boksburg Meer gereël.
Volgens sy dogter, Christa, was haar pa altyd bereid om ander te help.
“Ons as kinders het hom geken as iemand wat nie kan stil sit nie. Hy was altyd besig om te organiseer, iets te bou of te herstel. Hy was selfs betrokke gewees by die restorasie van Boksburg Jukskei Klubhuis,” het Christa gesê.
Volgens Christa, is Valentine as ‘n ware legende in Boksburg beskryf.
“Ons gaan hom mis, maar daar is soveel stories en herinneringe wat ons het om vir almal te vertel om te verseker dat hy altyd in ons gedagtes sal wees,” het sy vertel.
Hy word oorleef deur sy vrou, Martie, en sy drie kinders, Mari Vos (dogter) en familie, Christa (dogter) en Frans Valentine (seun) en familie.



