Local newsNews

Begrafnis-chaos familie opsoek na regsadvies

Alhoewel die begrafnisondernemer, Doves en Kloppers, die Jenner-familie ten volle vergoed het vir die swak diens wat gelewer was by Marie Jenner se begrafnis, gaan hulle dit beslis nie daar los nie.

Die oorledene se seun, Willie Jenner, is tans opsoek na ’n regspan wat hom met hierdie voorval kan bystaan.

“Niemand kan ’n verduideliking gee vir die gebeure nie en ek gaan dit nie net daar los nie. Ek gaan nie rus tot hierdie ding in suiwer lig is nie,” sê Jenner.

Die Advertiser het in ’n vorige artikel berig waar die begrafnisondernemer die familielede in die steek gelaat het nadat die doodskis met die lyk daarin, by die kerk gelos is.

Jenner het vertel dat hulle met ’n gestruwel die doodskis in ’n private gesinsmotor moes laai en dit by die begrafplaas met ’n verdere gesukkel, sonder enige hulp van die onderneming, sélf by die gat, wat boonop te klein was, laat insak en toegegooi het.

Ten spyte van die geld wat terugbetaal is, het Jenner nogsteeds niks van die Boksburg streekbestuurder van Doves en Kloppers, Thabani Msidi, gehoor nie.

“Hulle bel jou nie – jy bel agter hulle aan asof jy die verkeerde een is. Hulle neem geen verantwoordelikheid vir hul dade nie en toon geen simpatie nie,” sê Jenner.

Die Jenner-familie is egter nie die enigstes wat ’n bloutjie met Doves en Kloppers geloop het nie.

’n Boksburg inwoner wat graag anoniem wil bly, het haar ma in Mei begrawe, en het van dieselfde begrafnisondernemer gebruik gemaak.

“Mense het my gewaarsku dat ek moet wegbly van Doves en Kloppers, maar ek wou nie luister nie,” sê die inwoner.

Daar was blykbaar geen ruiker op die kis óf by die graf nie. Na wat verneem word, was daar ook geen hulp by die graf nie.

Die draers moes die kis glo uit die kar kry en toegooi.

“Die kontrakteur het eenkant gestaan en toekyk hoe ons die doodskis by die graf insak.”

Volgens die inwoner het die kontrakteur selfs gery voordat die begrafnis verby was.

“Dit is baie teleurstellend en ons is baie ongelukkig hieroor. Hoekom moet ons wat iemand begrawe, altyd deur druk gaan?” sê die inwoner.

Doves en Kloppers het, na ’n gesukkel, die geld vir die predikant en die blomme aan die familie teruggebetaal. – @IschkeBoksburg

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add Boksburg Advertiser as a Preferred Source on Google and follow us on Google News to see more of our trusted reporting in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button