MunicipalNews

Impala Park elektrisiteitsprobleem steeds nie opgelos

Sowat ’n maand gelede was Impala Park bykans vir drie dae sonder elektrisiteit.

Nadat die krag herstel is, en daar beweer is dat die probleem finaal opgelos is, kom dit voor of hierdie woongebied steeds probleme met hul kragvoorsiening ondervind.

Die krag het weereens op 14 April, ongeveer 6.30nm, afgegaan en is eers die volgende dag om 9vm herstel.

Volgens ’n jarelange Impala Park inwoner, Jaco du Toit, is al drie toevoerkabels wat elektrisiteit vir hierdie gebied voorsien, verouderd.

Hy sê dat die kabels besig is om op te pak en dus vervang moet word.

“Hulle (die metro) weet dit, maar toe ek die klagtesentrum ’n maand gelede gebel het om te hoor wat die probleem is, jok hulle en sê dit is beurtkrag.”

Du Toit beweer dat een van die toevoerkabels soveel laste het, dat dit geensins moontlik is om dit verder te las nie.

“Die kabels is so vrot – as ek geld gehad het, het ek iemand gekry om dit te kom toets.”

Du Toit maak ook die stelling dat dit nie die metro se werkers is wat die kabels herstel nie, maar dat eksterne kontrakteurs en tenders daarvoor verkry word.

Teen die tyd van publikasie, het die Advertiser nog nie terugvoering vanaf die metro ontvang nie.

Impala Park se raadslid, Andrè du Plessis, het bevestig dat daar weereens ‘n kabelfout was waartydens een van die ondergrondse toevoerkabels onklaar geraak het.

Du Plessis moedig die inwoners van Impala Park aan om die Geïntegreerde Ontwikkelingsplan se publieke vergadering op Woensdag, 23 April by te woon, sodat hulle insette kan lewer en die metro vra om sekere prioriteite te lig.

“Hulle kan die metro vra om die begroting beskikbaar te maak om nuwe kabels te lê, want die kabels is van sulke aard dat dit onklaar raak.”

Die Geïntegreerde Ontwikkelingsplan vergadering vind in die Boksburg Stadsaal om 6nm plaas.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add Boksburg Advertiser as a Preferred Source on Google and follow us on Google News to see more of our trusted reporting in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button