Net Tolhek-Aksiegroep kan E-tolwet moontlik skrap
Na die DA se mislukte hofaansoek om die E-tolwet te skrap, staan nog net die Tolhek-Aksiegroep (TAG), waarvan die VF Plus deel is, tussen Gautengse padgebruikers en E-tol.

Dit is volgens die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor vervoer, Anton Alberts.
Volgens Alberts het die TAG ’n veel beter kans om met die hofaansoek te slaag, aangesien die wettigheid van sekere regulasies ook betwis gaan word en nie net die grondwetlikheid van die E-tolwet nie.
“Die E-padregulasies is foutief deurdat die terme en voorwaardes vir die gebruik van E-tol daarin vervat, uitgereik is voordat die E-tolwet gepubliseer is. Dit maak die regulasies dus onwettig.”
Alberts sê ook dat die E-toltariefregulasies moontlik nie eens regulasies is nie, aangesien dit as ’n blote kennisgewing uitgereik is.
“Verder voldoen die regulasies nie aan die E-tolwet se eie vereistes om eers aan die parlement voorgelê te word vir goedkeuring nie. Dit het nooit voor die parlement gedien nie.”
Die TAG gaan nou voort met sy saak wat verlede jaar op 2 Desember op gronde van dringendheid afgewys is in die Noord-Gautengse Hooggeregshof.
“Dit sal nou op die gewone rol geplaas word nadat aanvullende stukke tot die saak gelewer is,” sê Alberts.



