Begrotingstoespraak meer van ’n verkiesingsbegroting
Volgens CDP leier, ds Theunis Botha, was die begrotingstoespraak deur minister Pravin Gordhan, soos verwag, ’n verkiesingsbegroting.

Dit is beide in terme van beloftes wat gemaak is soos die beoogde bou van 216 000 huise, en deur die effektiewe doodswyg van die impak wat sake soos stakings, kaderontplooiing, korrupsie en gewelddadige betogings op die ekonomie het.
Botha beweer dat faktore buite die regering se beheer nie al die blaam kan dra nie.
“Die musical chairs wat gespeel word om uitkoms te bied en ook die regering se skatkis te vul is steeds swaar teen die produktiewe kragte in die land gelaai.”
Verder voer Botha aan dat daar baie klem daarop is om probleme deur geldspandering op te los, eerder as om omstandighede bevorderlik vir ekonomiese groei te skep.
“Beloftes om korrupsie en vrugtelose uitgawes hok te slaan is reeds ou nuus, en het bloot tot ’n toename in dié euwels gelei – daar is min rede om te glo dat dit nou – in die aangesig van ’n verkiesing, sal verander.”
Die CDP verwelkom dit dat ’n miljoen mense wat onwettig maatskaplike toelaes ontvang het, van die ontvangerslys verwyder is.
Wat landbou betref, eindig Botha af, bly die regering steeds vêr verwyderd van werklikhede, soos die doelwit om 300 000 werksgeleenthede op ’n miljoen hektaar te skep.
“Suid-Afrika se landboupotensiaal is weens die land se lae reënval marginaal, en om een werksgeleentheid per drie hektaar te skep is bloot om erge armoede te kweek.”



