
En dìt, te midde van die kritiek teenoor die regering se Nasionale Studente Finansiële Hulpskema (NSFHS).
Volgens die DA se skaduminister vir hoër onderwys en opleiding, Annelie Lotriet, het slegs 50 persent van studente wat vir befondsing van die NSFHS kwalifiseer, wel befondsing ontvang.
“Dit beteken dat die helfte van studente met universiteitstoelating toegang tot tersiêre kwalifikasie geweier word,” meen Lotriet.
Hoof van die Helpende Hand Afrikaanse Beursinstituut, Dinah Theron, sê dat die instituut oorval word met studente wat dringend aansoek doen vir finansiële ondersteuning nadat hul NSFHS-studiehulp onttrek is.
“Studente kan doodeenvoudig nie hul studies voortsit sonder befondsing nie,” sê Theron.
Theron het met verskeie ouers gepraat wie se kinders in hul derde of vierde jaar is en nie verder kan studeer nie.
Sy sê die slegste is dat daardie studente met dokumentasie sit waarin die onderneming gegee word dat hulle befonds sal word en dan word die befondsing sonder enige verduideliking net onttrek.
Sy gaan verder deur te sê dat skielike onttrekking van fondse ook beteken dat die reusebedrae geld wat alreeds aan studies spandeer is, van nul en geen waarde was.
Ongeveer 3 400 aansoeke om studiehulp vir die huidige akademiese jaar is deur die Afrikaanse Beursinstituut ontvang.
“Ongelukkig kan ons as gevolg van beperkte fondse nie almal help wat aansoek doen nie, maar ons weet dat ons ’n enorme verskil maak in die lewens van die jongmense wat wel gehelp kan word,” sê Theron.
Aansoeke word op ’n streng kriteria gekeur.
“Ons bestuur 114 beursfondse, elkeen van hierdie beursfondse het kriteria punte waarvolgens ons die beursfondse konsekwent bestuur. Aansoeke word ontvang vanaf Mei 1 tot September 31, waarna elke aansoek verwerk word volgens die kriteria punte.
“Toekenning word dan in November deur die onderskeie beurskomitees gemaak wat dan bepaal wie gehelp sal word,” verduidelik Theron.
Enige iemand in Suid-Afrika kan aansoek doen vir die rentevrye studielenings.
Hierdie studente word verwys vanaf weldoeners of universiteite.
Die beskikbare fondse in die beursplatform het die afgelope jaar met meer as R4-m toegeneem.
Die uitvoerende hoof van Solidariteit Helpende Hand, dr Danie Brink, sê dat daar elke jaar talle matrikulante met universiteitstoelating is wat sonder ‘n tersiêre kwalifikasie moet klaarkom as gevolg van ‘n tekort aan finansiële ondersteuning.
“Deur rentevrye studielenings aan studente beskikbaar te stel, gee ons hulle die geleentheid om hul drome na te jaag, terwyl hulle terselfdertyd noodsaaklike vaardighede aanleer wat onmisbaar in ons ekonomie gaan wees,” sê Brink.
Theron sê dat die Beursinstituut baie graag meer studente vanuit die Boksburg streek wil help.
“Dit sal wonderlik wees indien ’n individu, korporatiewe instansie of gemeenskap, ’n beursfonds wil stig wat bepaal dat die fondse uitsluitlik aangewend moet word vir kinders vanuit die Boksburg omgewing.
“So raak die gemeenskap direk betrokke by die opheffing deur middel van opleiding konsep.”



