Studente sit voet neer teen E-tol
Afriforum se jeug en studente aan die Universiteit van Pretoria het op Februarie 10 hul standpunt ingeneem teen die omstrede E-tolstelsel.
’n Groot banier wat bedek is met voetspore, was deel van Afriforum Jeug se veldtog teen E-tol.
“Die ondersteuning van die studente is ongelooflik. Aan die begin was hulle bietjie versigtig, maar die oomblik wat hulle die simboliek daaragter verstaan het, was hulle gretig om die stap te neem. Die veldtog is ’n reuse sukses,” sê nasionale voorsitter van Afriforum Jeug, Henk Maree.
“By die ANC Manifes Forum in Johannesburg op Oktober 22, het Jacob Zuma gesê dat studente dalk vrygestel kan word van E-tol, maar daar was nooit weer sprake van enige moontlike vrystelling nie.
“Die meerderheid studente verdien nie ’n vaste inkomste nie. Diegene wat salarisse verdien, kry so min dat hulle nie belasting skuld nie.
“Die meeste studente maak ook van ’n ry-klub gebruik, wat beteken dat hulle vir dieselfde vrystelling soos taxi’s moet kwalifiseer,” sê Afriforum Jeug Tuks voorsitter, Rochelle Oosthuyse.

Afgesien van die standpunt om aksie in te neem, word petisies ook op drie kampusse gesirkuleer.
Die doel is om die regering en Sanral bewus te maak van die studente se versoek.
Afriforum Jeug moedig studente aan om die petisie aanlyn by www.afriforumjeug.co.za te teken.



