Steen heronthul te ere van die Groot Trek se 175-jarige
Die Rapportryerskorps in Boksburg het Saterdag, 30 November, ter ere van die 175-jarige herdenking van die Groot Trek van 1838 'n klipstapel (gedenksteen) heronthul.
Dié klipstapel, geleë in Trichardtspark, is op 5 Desember, 1988, vir die eerste keer onthul tydens die 150-jarige Groot Trekvieringe, maar het sedertdien erg verwaarloos geraak.
Die klipstapel is toe deur die oud-burgermeester, Beyers de Klerk, in samewerking met die Afrikaner Volkswag, opgerig.
Die plaaslike Rapportryers het sedertdien besluit om die verwaarloosde klipstapel, ter herdenking van die Groot Trek, te restoureer.
Tydens hierdie verrigtinge is ‘n knapsak, wat op die hoofroete vanaf Wellington gestuur is en waarin groeteboodskappe op die roete geplaas is, ook deur Neels Crozier, van die Bethal Rapportryerskorps, aan Davie van der Merwe, voorsitter van die plaaslike Rapportryerskorps, oorhandig.
Groeteboodskappe van die Rapportryerskorps van Klerksdorp en Vereeniging is ook ontvang, om in die knapsak geplaas te word.
Ook deel van dié sak is ‘n 1938-vertaling van die Bybel, wat deur die Rapportryerskorps van Grahamstad geskenk is, ter herdenking van die Groot Trekvieringe.
Die doel is om dit, saam met die 1837-Uys Bybel, by die Voortrekkermuseum in Pretoria te bewaar.
“Onderweg op die trekroete, vanaf Grahamstad, het al die lede van die Rapportryerskorps hulle handtekeninge op die skutblaaie van hierdie Bybel aangebring,” sê Van der Merwe.
“Die Bybel, in ‘n mooi houtkissie, het die knapsak vergesel waarin groeteboodskappe onderweg geplaas is.”
Van der Merwe gaan nou die knapsak met boodskappe op 16 Desember, tydens Geloftedag, by die Voortrekkermonument besorg.
Volgens Van der Merwe was Hendrik Johannes Lopper die hoofleier van die trek met die Charl Cilliers-gedenkwa tydens die 100-jarige herdenking van die Groot Trek wat in 1938 plaasgevind het.
Tydens dié vieringe op 8 Desember, 1938, was wa-spore verewig by Trichardtspark en die eerste gedenksteen onthul.
Wa-spore is ook by die NG Kerk Moedergemeente (Klipkerk) verewig, en ‘n hoeksteen is by die NG Kerk, Boksburg Noord, onthul.
Van der Merwe was ook verantwoordelik vir die reëlings van die 150-jarige herdenking van die Groot Trek in 1988, in Boksburg.
“Daardie jaar, op Saterdagoggend, 3 Desember, is ‘n pretdraf om Boksburg se meer en ‘n vlotvaart gehou,” vertel Van der Merwe.
“Dié Saterdagaand was daar ‘n tradisionele boeredans. Sondagoggend was ‘n gesamentlike herdenkingdiens in die stadsaal gehou.
“Maandagoggend was die Dirkie Uys-gedenkwa by die eeufeessaal in Boksburg Noord ontvang met Hercules Wessels as die trekleier saam met sy span trekdiere.
“Om 11.30vm het die optog na die burgersentum vertrek waar hulle tesame met vlotte vanuit die ander drie windrigtings aangekom het.
“Skole, kerke, brandweer, motorfietsryers en stappers het almal aan die vieringe deelgeneem. By die burgersentrum is die wa-spore in nat beton verewig en ‘n vlaghysingseremonie was deur die Voortrekkers waargeneem.”
Van der Merwe sê dat hy nou, 25 jaar later, weer met die 175-jarige herdenking van die Groot Trek die voorreg geniet om die reëlings en die verrigtinge te beleef.



