Editor's choiceLocal newsNews

Geniet die feestyd, maar moenie roekeloos wees nie

Die feestyd is net om die draai en daarmee saam partytjies, vieringe en vuurwerke.

In hierdie tyd van vrolikheid moet Suid-Afrikaners oppas dat hulle pret nie daartoe lei dat hulle die wet oortree nie, meen Chantel Cronje, regsadviseur by Legal and Tax.

“Met al die versoekings van die feestyd tree baie mense op onverantwoordelike en onwettige wyses op,” voeg sy by.

“Dit is belangrik dat jy die landswette ken, asook die munisipale regulasies van jou stad of dorp, en dat jy jou binne die perke daarvan geniet.”

Sy sê baie Suid-Afrikaners kry die ongewenste geskenk van ‘n kriminele rekord gedurende die feestyd, wanneer hulle onder die invloed van alkohol bestuur en gevang word.

“Die polisie het baie meer padblokkades gedurende die feestyd en die kanse dat jy gevang kan word, nadat jy te veel gedrink het, is noemenswaardig groter,” vertel sy.

“Daarbenewens is dit gevaarlik en uiters onverantwoordelik om te bestuur wanneer ‘n mens onder die invloed van alkohol is.

“Navorsing toon dat 50 per sent van mense wat op ons paaie sterf ‘n bloedalkohol-konsentrasie van meer as 0.05g per 100ml het. Dronkbestuur veroorsaak sterftes.”

Cronje sê dat die Nasionale Padverkeerwet bestuurders verbied om te bestuur met ‘n bloedalkoholvlak van meer as 0.05g per 100ml of meer as 0.24mg in 1 000ml asem.

Dit beteken dat jy die perk sal oorskry as jy meer as een eenheid alkohol (min of meer gelyk aan een drankie) per uur drink.

Cronje raai aan dat ‘n mens glad nie drink voor jy bestuur nie.

* Verseker dat jy nie die perk oorskry nie,- gebruik openbare vervoer of die diens van ‘n privaat vervoermaatskappy. Boetes vir dronkbestuur is swaar – dit word beskou as ‘n ernstige kriminele oortreding.

* Vir ‘n eerste oortreding kan jou bestuurslisensie vir ses maande opgehef word en kan jy ‘n boete van tot R2 000 en/of twee jaar tronkstraf opgelê word (wat gewoonlik vir eerste oortreders opgeskort word).

Jou regte indien jy vir dronkbestuur gearresteer word

As jy daarvan verdink word dat jy dronk bestuur, moet jy die polisie toelaat om ‘n bloedmonster te neem of ‘n asemklikkertoets te doen.

Cronje sê dat die monster onder dwang geneem kan word as jy jou probeer verset. Die asemklikkerlesing of bloedmonster sal as primêre bewys teen jou gebruik word wanneer jy voor ‘n magistraat verskyn.

Jy het egter die reg om met respek en waardigheid behandel te word, selfs al is jou optrede nie waardig nie.

Jy sal aangehou word totdat jy borgtog kan betaal (in sekere gevalle kan borgtog geweier word), wat gewoonlik die geval is wanneer jy voor ‘n magistraat verskyn.

Vuurwerke

Op Oujaarsaand en Kersaand word die naglug gewoonlik verhelder deur vuurwerke, maar baie Suid-Afrikaners is blykbaar onbewus van die wette wat hier van toepassing is, sê Cronje.

Dit is ‘n kriminele oortreding om die wette en regulasies ten opsigte van die gebruik van vuurwerke te oortree.

Hou hierdie in gedagte voor jy begin klappers skiet:

* Vuurwerke mag slegs op privaat eiendom afgeskiet word.

* Die meeste vuurwerke is verbode: vuurwerke groter as 25 mm x 4 mm, enigiets wat onbeheers vlieg, Romeinse kerse, enige vuurwerk wat nie met “swart poeier” gemaak is nie, enigiets wat ‘n “ontplofgeluid” maak.

* Sommige munisipaliteite verbied vuurwerke. Ander gee toestemming dat vuurwerke in sekere gebiede onder toesig afgeskiet mag word.

* Vuurwerke mag nie aan kinders jonger as 16 jaar verkoop word nie.

* Dit is ‘n oortreding om kinders jonger as 16 jaar toe te laat om vuurwerke sonder volwassenetoesig te hanteer.

* Openbare vuurwerkvertonings verg skriftelike toestemming deur die hoofinspekteur van plofstowwe.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add Boksburg Advertiser as a Preferred Source on Google and follow us on Google News to see more of our trusted reporting in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button