Hoërskool Dr EG Jansen leerders vaar uitstekend in die Con Spirito-kunswedstryd wat vanjaar ook die aanlyn uitweg volg te midde van die pandemie.
Die volgende leerlinge het in Mei goeie resultate in die kompetisie vir redenaars behaal:
Afrikaans voorbereid: Markus van Niekerk (96%), Gizelle Jordaan (94%), Kimé Steenkamp Steenkamp (94%), Victor Naude (93%), Lise-Marie van der Mescht (92%), Haylee Bronkhorst (91%), Megan Oosthuizen (90%), Bianca Andrea van Wyk (88%), Juanelle van Niekerk (87%), Aviaschka van der Merwe (87%), Izanie Neuhoff (85%) en Reese Clark (84%).
Afrikaans onvoorbereid: Kimé Steenkamp Steenkamp (98%), Gizelle Jordaan (95%), Markus Delport (91%) en Haylee Bronkhorst (90%).
Engels voorbereid: Haylee Bronkhorst (97%), Victor Naude (96%), Gizelle Jordaan (96%) en Izanie Neuhoff (80%).
Engels onvoorbereid: Gizelle Jordaan (93%).
ALSO READ:
Tracey-Lee verower 37 medaljes by die SA Kampioenskappe vir Uitvoerende Kunste
Magda Scholtz, organiseerder van die redenaars, sê dat EG Jansen, trots op hul leerders se prestasies is.
“Tussen die tuinroete doen, die toets van nuwe resepte, nuwe slaappatrone aanleer en tussendeur akademie op datum hou, was die redenaarskompetisie vir hulle ‘n welkome uitlaatklep,” het Magda gesê.
Lizelle van Staden, uitvoerende direkteur van die kultuurbedryf, verduidelik dat hul nou al twee weke besig is met die aanlyn redenaarskompetisie, ‘n uitdaging wat tot dusver vlot verloop.
Alle deelnames word deur middel van Skype en WhatsApp-video-oproepe beoordeel.
Enige skool of instansie mag aan Con Spirito-kunswedstryd deelneem en privaatinskrywings word ook aanvaar. Ander afdelings soos dans, kore en toneelgroepe is tot verdere kennisgewing uitgestel.
“Met al die uitdagings wat gepaard gaan met die koronavirus, was ek maar taamlik benoud. Nooit het ek gedink dat dit aanlyn gedoen kan word nie, maar die kinders en ouers is in ekstase,” het die uitvoerende direkteur verduidelik.
“Deur advertering het ons leerders bereik wat reeds ingeskryf was asook ouers van leerders wat die kans aangegryp het om hul kinders die geleentheid te bied om in die onderskeie afdelings waarin hulle gewoonlik meeding, te laat kompeteer en so in voeling te bly met aard van die kompetisie. Die onderskeie afdelings is redenaars, gedigte, lees, sang en instrumenteel. Die reaksie was oorweldigend. Daar was navrae uit Bloemfontein, Wes- en Noord-Kaap en Namibië van voorgenome kandidate wat deel van die kompetisie wil wees.”
“‘n Aanlynkunswedstryd is nie die ideaal nie aangesien dit tog oor optrede voor ‘n gehoor gaan, maar die kinders en afrigters leer nou weer nuwe vaardighede aan wat die bedryf in ‘n nuwe tydvak stuur.”
Die kunswedstryd is dalk bedoel vir skoolleerlinge, maar vir Con Spirito en FAK-Kultuurnetwerke se nuwe skryfkompetisie, Woeker-met-die-pen, kan kinders van so jonk as 10 jaar asook jong volwassenes van 25 jaar inskryf.
“Ek moes my kreatiewe denke aan die gang sit tydens die grendeltyd. Binne ‘n week het die kompetisie die lig gesien met FAK as vennoot,” het Lizelle bygevoeg.
Con Spirito het 18 jaar gelede op ‘n klein skaal in Boksburg se ou poskantoor begin as ‘n wyse waardeur Lizelle, ‘n oudonderwyseres, haar passie vir kultuur en musiek kon uitleef.
Die kunswedstryd het die afgelope vier jaar vining uitgebrei. Dit word nou ook in Gauteng-Oos en Wes, KwaZulu-Natal, Noordwes, Mpumalanga en binnekort in Namibië en die Wes-Kaap aangebied. Aanlynkompetisies wat nog oop is vir inskrywings is lees, drama (slegs ongedramatiseerde items), redenaars, sang en instrumentaal. Alle registrasies en inskrywings word aanlyn op www.conspirito.co.za gedoen.
Follow us on these social media pages:










