“Baie geluk met julle uitmuntende prestasie as die top wiskundeklas in Ekurhuleni. Ek is ongelooflik trots op julle. Deur harde werk het ons saam die vrugte gepluk,” lui Dalene Roux van Hoërskool Oosterlig se boodskap aan haar matriekleerlinge van 2019.
Roux, ’n jarelange wiskunde-onderwyser en departementshoof van die spogskool, was onlangs tydens die City of Ekurhuleni Academic Excellence Awards Ceremony 2020 as die beste wiskundeonderwyser in Ekurhuleni aangewys.
Die passievolle onderwyser het beklemtoon dat sy hierdie toekenning ingepalm het omdat haar skool se matrikulante van verlede jaar so uitstekend in wiskunde gevaar het.
“Dit was vir my ’n ongelooflike groot voorreg om hierdie toekenning te kon ontvang. Al was Oosterlig al voorheen die beste in die distrik, het die prestasie my steeds onkant gevang.
“Ek tree na verwagting die einde van die jaar af en dit is ’n groot afskeidsgeskenk van my leerders se kant af. Nou het my lang onderwysloopbaan op ’n hoogtepunt afgesluit,” sê Roux, wat haar hele loopbaan net op wiskunde gefokus het.
“Harde werk is van kardinale belang in wiskunde en mens moet oefen, oefen en nogmaals oefen. Dit is vir my wonderlik om te sien hoe hulle groei en selfvertroue in die vak toeneem.”
Haar primêre doel is om leerders voor te berei vir die matriekeindeksamen en vertel dat dit belangrik is om vroegtydig te begin leer en om van vorige vraestelle gebruik te maak.
“Ek moedig leerders ook aan om na my toe kom met baie vrae. Hulle leer om vir hulself te dink en te redeneer.”
Volgens die wiskunde-genie, wat nou 42 jaar in die onderwys is, was dit vir haar van kleins af lekker om somme te doen.
“Ek het liefde vir die vak van my pa geërf,” vertel die onderwyser wat tussen Nigel en Harmonie in die Vrystaat grootgeword het.
Sy het haar loopbaan by Hoërskool Koster in Noordwes en Brandwag afgeskop en het daarna vir 15 jaar by Wordsworth High School skoolgehou voor sy by Oosterlig vir die afgelope 26 jaar nes geskrop het.
“Ek wens Oosterlig die beste vir die toekoms toe en ek hoop dat die wiskunde-department van krag tot krag sal gaan. Ons het wonderlike kinders en dit was nog altyd ’n voorreg om hier skool te hou.”



