’n Nuwe avontuur wag op ds Daan Bakker
Bakker, wat verlede jaar einde November afgetree het, en sy vrou Fransie is geliefde inwoners van Boksburg
Na 30 jaar in die preekstoel van die Gereformeerde Kerk Boksburg het ds Daan Bakker besluit om die tuig neer te lê.
Hulle gaan nou ’n verdere hoofstuk van hul lewe in Potchefstroom aanpak.
Hy vertel dat hy reeds in Graad 11 geweet het dat hy graag ’n predikant wil word.
“Ek het my matriek op Hoërskool Vryburg voltooi en het daarna vir 10 maande my diensplig gedoen en toe gaan studeer aan die PU vir CHO in maatskaplike werk.
“Daarna het ek besluit ek kan die tale Hebreeus en Grieks baasraak en het met teologie begin aan die Teologiese Skool van die Gereformeerde Kerke. Na my studies was my eerste gemeente Witbank-Oos en het ek vir vyf jaar daar bedien.
“Ek is beroep na Boksburg in November 1989 en was predikant van Boksburg tot my emeritering.
“Om 30 jaar ’n gemeente te bedien is ’n besonderse roeping en dra sy eie uitdagings. Daarom het ons elke drie jaar besondere aandag gegee om weer te fokus en uit die groef van die gewone gang van sake te kom.
“My hoogtepunt was elke Sondag se prediking. Op Sondag sit daar so 200 gelowiges voor jou en vir my was dit ’n besonderse geleentheid om God aan die Woord te laat kom in elkeen (klein en groot) se lewe.
“Ja, daar was die mooi van katkisasie te gee vir die seuns en dogters van die gemeente en die huwelike wat bevestig is en daar was ook die swaar om van hulle wat by die Here tuisgekom het afskeid te neem en die troosdiens daarin waar te neem.
“Sommige het na 30 jaar al vir jou soos jou eie ouers geword. Siekebesoek, hospitaalbesoek en pastorale werk was ook van my hoogtepunte. Elke geloofsgesprek oor iemand se lewe is soos die Here se preek in jou eie lewe,” het Bakker verduidelik.
Dit was vir hom ook wonderlik om saam met die bediening in die gemeenskap betrokke te kon wees en was voorsitter van die Gereformeerde Kerke se Diakonale Sake (later net ’n adviseur) wat twee kinderhuise onder ons sorg gehad het wat elk ongeveer 60 kinders versorg.
“Ek was op die Gereformeerde Kerke se deputate vir Bybelverspreiding en het dit geniet om daarin betrokke te wees. In Boksburg was ek betrokke as vrywilliger by SAVF Huis Dien Bothma en het my dienswerk daar baie geniet.
“In ons anderstalige gemeenskap in Katlehong het ek in die Gereformeerde Kerk Katlehong een keer ’n maand in Engels die Woord bedien met die hulp van ’n tolk uit die gemeente.
“Wat ’n wonderlike klein geloofsgemeenskap is hulle nie. Nog ’n stukkie seer, want dit was een van die mooiste geleenthede in ’n maand om daar te gaan preek en deel te wees van hulle saamsing en saamluister na die Woord,” voeg hy by.
Hy het ook ’n traan in sy hart oor die gemeente en gemeenskap waaruit hy nou vertrek het.
“Ek was baie lief vir ons gemeente en jy kan miskien net so ’n mooi gemeente as Gereformeerde Kerk Boksburg kry, maar ’n ander een moeilik. Vir die Gereformeerde Kerk Boksburg beteken my emeritering/aftrede ook nuwe omstandighede omdat die gemeente in gesprek is met Gereformeerde Kerk Boksburg-Suid om met mekaar een gemeente te word.
“Ons (hy en Fransie) sê dankie vir ons Boksburg gemeente vir wie ons altyd lief sal bly en voorbidding doen vir die nuwe pad voorentoe.
“Ons trek met hartseer weg. Ons huis is al reg om mense te ontvang. Kom drink gerus koffie of tee as julle deur Potchefstroom ry of sommer net regtig wil ry om te kom kuier. Diep in ons harte het julle as mooi herinnering kom woon,” het Bakker vertel.
Bakker sien ook uit na ’n nuwe fase van hulle lewe.
“Die wonderlike ervaring vir my van my aftrede is om na 30 jaar skielik sonder verantwoordelikhede te wees en sommer net te mag opstaan en die dag te geniet. Vir eers is dit ’n taak om uit te pak en in te pas, want om van ’n groot pastorie na ’n klein meenthuisie toe te trek is nogal ’n Tetris puzzle.
“Dis wonderlik om vir jou eie huisie te gaan plante koop en te plant, om jou eie gras te sny en nat te maak en te sien groei. Ons bly al klaar lekker in ons huisie en het in die nuwe gemeente in Gereformeerde Kerk Potchefstroom-Oos tuisgekom en is mooi ontvang.
“Hoe wonderlik is dit om ’n slag self te luister as God deur ’n ander bedienaar aan die Woord kom in jou eie lewe in die preek.
“Ek sou graag ’n klas wou aanbied oor my ervarings as predikant in die praktyk en miskien iets van die lesse wat ek geleer het, mag oordra aan hulle of nog meer, dalk ’n studie maak van almal wat reeds afgetree het se lesse en dit deel maak van die klas.
“Ek wil graag met drie mense op ’n dag oor Jesus praat wat nog nie aan ’n kerk behoort nie uit alle tale van ons mooi land se mense,” het Bakker gesê.



