Local newsNews

Gedenksteen opgerig om vermoorde onderwyser te vereer

Die onderwyser, wat op 19 Mei by haar huis in Boksburg vermoor is, het vir 40 jaar by Laerskool Goudrand skool gehou.

’n Gedenksteen is onlangs ter nagedagtenis aan die geliefde onderwyser, Linda Breytenbach (66), by Laerskool Goudrand se mediasentrum opgerig.

Omdat Linda so ’n prominente en bekende onderwyser was, laat sy ’n groot leemte by die skool. Talle leerlinge het deur haar hande gegaan en hulle onthou haar met deernis.

Die inisiatief is daarom geneem om eer aan haar te betoon vir haar lewenslange bydra tot die onderrig en slyping van jong mense.

Juan Brits van Rio Grafstene het die gedenksteen aan Johann van Niekerk, voormalige voorsitter van Goudrand se beheerliggaam, en die skool geskenk om haar blywend te vereer.

Andriëtte en haar ma, Magda Brits saam met Suzette en Johann van Niekerk. Die twee families het ’n gedenksteen geskenk om eer aan Linda te betoon.

Juan se dogter, Andriëtte was in 2009 die skool se hoofdogter en Johann se seun, Jacques, was onder-hoofseun.

“Die Van Niekerk en Brits familie wil graag die skool, die hoof, personeel, asook die beheerliggaam, bedank vir hulle toestemming om die gedenksteen op te rig,” sê Johann.

“Linda het ’n lang pad saam met die skool gestap. Sy was die enigste onnie waaraan ek kan dink wat betrokke by die mediasentrum was.

“Hierdie is ’n klein skool. As iets hier gebeur, raak dit ons almal.”

Volgens die waarnemende hoof van Goudrand, Rainier Myburgh, was Linda nie net geliefd by die skool nie, maar ook in die hele gemeenskap.

“Ons dra ons dank oor aan die skenkers. Die gebaar word opreg waardeer. Die skool dink saam met die skenkers van die gedenksteen aan die famile deur hierdie moeilike tyd,” vertel Myburgh.

Vir Linda se dogter, Adele Pretorius, was dit ’n moeilike dag, maar sy is bly dat haar ma op hierdie wyse vereer is.

“Vandag is ek niks anders as trots op my ma nie. Ek twyfel of sy eers besef het hoeveel mense se lewens sy aangeraak het. Sy was ’n nederige mens wat geleef het soos die Here dit sou wou gehad het. Ons gaan deur ’n moeilike tyd en is steeds geskok, maar ek weet dat sy nou gelukkig en sonder pyn is,” sê ’n hartseer Adele.

LEES OOK:

Gemeenskap geruk na sinnelose moord op onderwyseres

FOLLOW US:

Instagram

Facebook

For more #hyperlocal news at your fingertips, visit Benoni City TimesSprings AdvertiserBrakpan Herald, African Reporter and Kathorus Mail

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add Boksburg Advertiser as a Preferred Source on Google and follow us on Google News to see more of our trusted reporting in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button