Local newsNews

Digter Barries van Boksburg deel graag sy talent

Bernardo skryf al vir ongeveer 30 jaar gedigte.

 

Gert Renier Johannes Bernardo (71), ook bekend as Barries, het die Advertiser met ’n rustige gemoed en ’n sagte glimlag verwelkom.

Al is woorde volop as dit by sy skryfwerk kom, is hy ’n warm, stil mens.

“Ek was nog altyd baie lief vir skryfwerk en my taal,” sê Bernardo.

Hy deel graag sy gedigte met sy familie, lede van die Ou Apostel Kerk, Boksburg Noord, en ook met inwoners van Andries Scribante Haven, waar Bernardo en sy vrou, Rosa, nou al vir vier jaar woon.

Bernardo woon vir die afgelope 30 jaar in Boksburg en het vir ongeveer 20 jaar met vliegtuigenjins gewerk.

“Snags, wanneer dit stil is, kom alles na my toe. Ek skryf dit in my rofwerkboek en dan sit ek die volgende dag by my lessenaar en skryf die gedigte,” vertel hy.

Sy versameling gedigte het hy “Woorde van die hart” genoem. Sy skryfwerk gaan oor vliegtuie, dorpe, geloof en enige iets wat in sy hart met hom praat.

Bernardo het onlangs ’n gedig oor Valentynsdag geskryf en oor die legendes wat ’n invloed op sy lewe gehad het.

Hy geniet dit om van sy gedigte in die kerk voor te lees, al knaag die senuwees so bietjie.

“Ek skryf nie om beroemd te wees nie; ek glo net ’n mens moet jou talente met mense deel.”

Hy hou al sy skryfwerk in ’n lêer en sal graag wil hê iemand moet dit vir hom op ’n rekenaar sit.

Indien iemand bereid sal wees om Barnardo te help om sy skryfwerk oor te tik, kontak hom gerus op 071 104 1215.

  • Hier is Bernardo se gedig oor Boksburg:

Ons Pragtige Ou Boksburg

Ons pragtige dorp ou Boksburg

Ons dorp met sy goud in sy wand

Hier werk ons almal saam in sweet en in murg

Jy doen dit net vir ons ou Boksburg

Ons pragtige dorp ou Boksburg

Jy ons dorp ’n deel van die Oos Rand

Onder jou voete lê die goue wand

Jy behoort ook en is ook ’n deel van ons Transvaal

Ons pragtige dorp ou Boksbrug

Ons dorp met sy vriendelike mense

Jy met jou uigebreide groot grense

Jou goue hart vervul almal se wense

Ons pragtige dorp ou Boksburg

Hier by jou verdien ons, ons lewensbrood

En so maak ons, ons kinders groot

Ons Boksburg jy is ons dorp, en so sal dit bly.

Follow us:

Twitter

Instagram

Facebook

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add Boksburg Advertiser as a Preferred Source on Google and follow us on Google News to see more of our trusted reporting in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button