’n Stokperdjie van ’n ander ‘veer’
Hoewel Jan Jordaan, van Sunward Park al vir byna 20 jaar met kanaries teël, doen hy dit bloot as 'n stokperdjie en 'n ontspanning.
Tans huisves hy ongeveer 45 kanaries in sy kanarie-mangat. Hiér sal hy vir ure op sy stoel sit, hulle dophou en na hulle luister.
Vandat Jan kan onthou, het hy ‘n liefde vir pluimvee.
“Ek was nog altyd baie lief vir vere. As jy eers vere in jou bloed het, is daar nie omdraai kans nie,” vertel hy.
Jan het sy hele lewe lank voëls gehad – eers kapokhoenders, toe duiwe, daarna budgies en nou het hy sy kanarie-kinders.
Hy teël met twee tipe kanaries – die Norwich kanarie en die Border kanarie.

Voorheen het hy met die Yorkshire kanarie geteël, maar die postuur van die Norwich en Border kanaries het hom aangetrek.
Jan het onlangs by die jaarlikse skou van die Boksburg Kanarie Klub, te Kempton Park, die kategorie ‘Beste Norwich Kanarie’ gewen.
Dit is wel nie die eerste keer wat hy by ‘n skou gewen het nie. Deur die jare het Jordaan al verkeie rosette, trofeë en medaljes bymekaar gemaak.
Hy het ook vantevore met sy Border kanaries gewen.
Die kanaries word op verskeie vlakke, onder andere, kop en nek, liggaam, vlerke, bene en voete, vere, stert, posisie, kleur, toestand, netheid en grootte beoordeel.

Jan verduidelik daar is gewoonlik vooraf ‘n spesiale voëltjie waarin hy die potensiaal sien om ‘n moontlike wenner te wees.
Hy spandeer soveel moontlik tyd aan sy kanaries, veral tydens skoutyd en broeityd.
“Dit is groot werk om die kanaries te versorg,” sê Jan.
Dit is nou broeityd en Jordaan begin nou vasstel watter mannetjies en wyfies pasmaats kan wees.
“Jy probeer ‘n moontlike wenner teël,” sê hy.
Die pare lê gewoonlik tussen drie en vier eiers.
Hy meen die weersomstandighede en droogte speel ‘n rol in hoeveel eiers die kanaries broei.
Volgens Jan kan jy dieselfde mannetjie en wyfie vir vyf jaar laat teël, mits hulle vir jou ordentlike voëltjies gee.
“Party van die gene kom dalk van ‘n voëltjie wat nie so mooi was nie, maar ons koop ook aan as ons voeltjies vrek” sê Jan.
Hy bieg dat ‘n kanarie tot R10 000 op ‘n skou kan kos.
“Mense bring voëls van oorsee en teëlers koop dit om nuwe bloed in te bring.”
Jan vertel daar is soveel kossoorte vir kanaries op die mark en dan is daar ook persone wat hul eie sagtekos mengsel aanmaak.

Weens tydsbepreking koop hy meestal sy voëlkos by gespesialiseerde troeteldier winkels of dit word van Duitsland of België ingevoer.
Jan se familie en vriende ondersteun dié stokperdjie van hom en sê hulle is gelukkig hy het iets om hom mee besig te hou.
Hy hengel ook graag en behoort aan die Vereniging Hengelklub.
Jan probeer om so een of twee keer per maand na die Vaaldam te gaan en het ook al sy kleinseun, Jordan, touwys gemaak.
Hy het ook al baie kompetisies met hengel gewen.
Nou ja, of dit nou kom by voëls of visse, lyk my Jan kan!



