NewsSchools

Samaritaan Huis se skool bars uit sy nate

Die Samaritaan Huis se skooltjie bars behoorlik uit sy nate.

Vier jaar gelede het die organisasie voorskoolse opleiding begin met slegs sewe kinders in die klas. Die skool het tot so ’n mate gegroei dat daar nou ongeveer 40 kinders is.

Marie Russell, bestuurder van die Samaritaan Huis, vertel dat daar net een klaskamer vir die Graad R en RR kinders is en hulle benodig dus finansiële ondersteuning vir nog ’n klaskamer.

“Ons het hulp nodig om ’n afdak op te sit, sodat ons nog ’n klaskamer kan hê vir opvoeding,” het Russell gesê.

Die Samaritaan Huis bied gratis opleiding vir Graad R aan minderbevoorregte kinders.

Russell het met trots aan die Advertiser gesê dat vier van die leerlinge wat verlede jaar Graad R by die Samaritaan Huis voltooi het, tans eerste staan in hul Graad Een klas.

“Dit wys vir my dat ons iets reg doen. Ons kinders kry persoonlike aandag,” het Russell gesê.

“Graad R is baie belangrik en ons gee die kinders ’n kans om gereed te wees vir groot skool.”

Vir Graad RR opvoeding maak die skool staat op donasies, “maar dit hang af wat die ouers kan bekostig”.

“Ons sal nooit ’n kind wegwys as die ouers nie iets kan gee nie.”

Volgens Russell maak hierdie skooltjie ’n verskil in die kinders se lewens.

Elke dag ontvang elkeen ’n jogurt, vrug, melk, pakkie skyfies en ’n lekker.

“Ons grondslag is Goddelikheid en liefde kom eerste. Die kinders hier is gelukkig en dit is wat vir my saakmaak.”

Volgens Russell, het die publiek ’n negatiewe stigma teenoor Sky Straat en dat sy inwoners as die “outcasts’ van die gemeenskap bestempel word.

“Sky Straat lewer A-klas studente – ons gaan hulle [die publiek] wys.”

Die skooltjie vra ook om hulp in verband met die volgende:

• ’n Bussie om die kinders aan te ry vanaf en na die skool.

• Borge vir onderwysers se salarisse.

• Speelgrond apparate.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add Boksburg Advertiser as a Preferred Source on Google and follow us on Google News to see more of our trusted reporting in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button