Voormalige Kokkedoor-deelnemer kom praat oor sy stryd met dwelms
Die publiek word uitgenooi om ’n spesiale oggend saam met 2014 Kokkedoor-deelnemer Leroux van Vuuren, insluitend ’n gehoor-interaksie kookdemonstrasie, te geniet.
Hy gaan ook gesels oor sy stryd met dwelms en hoe die Here ’n pad saam met hom gestap het.
Die geleentheid word aangebied deur Man of God South Africa 2016-kandidaat, Dirk van der Westhuizen, en vind plaas op 7 Mei, om 10vm, by die Live Arts Little Theatre.
Van der Westhuizen (29) woon tans in Nigel.
Hy het na skool begin werk, waar hy probeer het om die hand aan die ploeg te slaan, maar sy droom om ’n akteur te word het hom altyd bygebly.
Hy het geweet dat dít eintlik is wat hy moet doen, maar hy het nooit werklik die geleentheid gehad nie.
“In die begin van 2015 het die Here drastiese berge kom verskuif en ek het die geleentheid gehad om as ’n ekstra op 7de Laan en Binnelanders op te tree,” het Van der Westhuizen gesê.
“Daar het ek besef dat ek werklik ’n passie vir televisie-werk het.”
Só het hy homself begin opwerk in die TV bedryf en hy het selfs al ’n geleentheid gehad om op die verhoog te verskyn.
“Ek is glad nog nie waar ek wil en moet wees in die vermaakbedryf nie, maar as ek terugkyk na die jaar wat verby is, besef ek dat die Here se hand van voorsiening oor my loopbaan is en dat hier nog groot dinge vir my gaan gebeur,” het Van der Westhuizen vertel.
“Nie net sodat ek self beroemd kan wees en elke dag werk nie, maar sodat ek my stem kan gebruik om ’n verskil te maak in ander jong mense se lewens.”
Man of God South Africa is ’n afdeling van ’n projek deur Lady Gracious.
“Hierdie kompetisie word beoordeel op wat jy vir jou gemeenskap teruggee en die pad wat jy saam met God stap,” het hy gesê.
“Ek glo elke persoon het ’n doel op aarde en hierdie kompetisie help mens ontdek wat daardie doel is en wat jy vir ander mense kan doen om ’n verskil te maak.
“Ek het reeds agtergekom dat dit nie net oor jouself gaan, soos baie mense leef nie, maar dat daar werklik ’n groter doel is en dat een persoon ’n verskil kan maak.”
Die wenner sal in November aangekondig word.
“My funksie, waar Leroux kom gesels oor sy dwelmmisbruik, sal weer ’n eye-opener wees vir mense, wie sal besef dat dit met enige persoon kan gebeur, maar ook dat daar hulp is,” het hy gesê.
Van der Westhuizen het juis in Februarie ’n rol gespeel in ’n musiekvideo vir dwelmbewustheid, en daar het hy besef dat dwelms ’n werklikheid is, daarom die geleentheid wat op 7 Mei plaasvind.
“Die TV laat dwelms soms so cool en lekker lyk, maar die realiteit is dat dit alles behalwe is. Dit verwoes lewens,” het hy gesê.
“Mense wat verslaaf is aan dwelms is nie net die persoon op die hoek van die straat nie, dit kan jou ma, pa, broer, suster, ouma, oupa, of vriend wees.
“Jy hoef nie alleen deur dit te gaan nie, as jou familie lid ’n verslaafde is, kan julle hulp kry vir hom of haar.”
Kaartjies vir die geleentheid kan bespreek word by www.lalt.co.za.
Skakel 082 878 8064 vir enige navrae.




