Standbeelde word uit tuin gegrawe
Heila Huyser was bitter ontsteld toe sy en haar man laat een Vrydagaand by die huis kom en waarneem dat die sement standbeeld in hul kompleks se tuin uitgegrawe en bo-op die grond gelaat is.
Die Huyser-paartjie is woonagtig by The Quails kompleks in Boksburg Noord.
Huyser het aan die Advertiser vertel dat toe sy en haar man ná ’n rugbywedstryd voor die kompleks se hek stop, daar ’n onbekende motor buite die kompleks in die straat geparkeer was.
“Die motorligte was af, maar die liggie binne die motor was aan,” het sy gesê.
Een volwasse man het glo buite die voertuig gestaan terwyl nog ’n man en vrou binne die voertuig was.
Huyser vermoed dat hierdie drie iets te doen het met die beskadiging van die standbeeld.
“Toe ons daar aankom, het hulle sonder enige haas gery,” het sy verduidelik.
“Hulle moes toe later teruggekom het en die ander standbeeld probeer steel het, want die volgende oggend het dit ook op die grond gelê.”
Die standbeelde was in die grond in gesement. Die bure het glo gehoor hoe hul honde op die aand van 4 September, vanaf
11nm, onophoudelik blaf, maar kon nie agterkom waarvoor nie.
Huyser en haar man het hierdie einste standbeelde, wat elk ongeveer 1.4 meter lank is, opgerig en die tuin buite The Quails versier.
Volgens Huyser het diewe glo ook voorheen die kompleks se CCTV kamera toerusting en die posbusnommers gesteel.
“Die ongerief en skade berokken is onsmaaklik. Ek wil mense teen hierdie persone waarsku en vra dat hulle op die uitkyk sal wees.”
Huyser beweer dat die straatligte in die omgewing, spesifiek in Agtstelaan en Tiendestraat, vir die afgelope jaar ook buitewerking is.
Die Ekurhuleni Metroraad is gekontak in verband met die straatligte wat nie werk nie en gevra wanneer dit herstel sal word.
Geen kommentaar is teen druktyd ontvang. – @IschkeBoksburg




