Zurika: Boksburg se klein wonderwerkie
Soms wens ouma Jenny Esterhuizen dat sy een oggend wakker word en Zurika is ''normaal'', tog is sy realisties.
Zurika Esterhuizen is op 5 Mei, 2008, te Sunward Park Hospitaal gebore, en is onmiddellik met Turner Sindroom gediagnoseer.
Dié sindroom is ’n chromosomale toestand wat ontwikkeling in vroue beïnvloed.
Sy is ook met Deletion 4p-sindroom en Duplication 12p-sindroom, in 2012, gediagnoseer.
Die hoofkenmerke van Deletion 4p sluit in ’n kenmerkende gesig voorkoms, vertraagde groei en ontwikkeling, asook intellektuele gestremdheid.
Kenmerke van Duplication 12p sluit onder andere ’n klein kakebeen, ’n ronde gesig, prominente wange en ’n hoë voorkop in.
Trinity Protection Services het vir Zurika se bloedtoetse in Columbia, waar haar chromosome in meer detail afgebreek en ondersoek is, betaal.
Al drie hierdie sindrome het egter nie volkome by Zurika ontwikkel nie – sy het slegs ’n gedeelte van al die sindrome.
Zurika is dus die enigste persoon in die wêreld met hierdie afwyking, genaamd Rare-disease.
Omdat Zurika, die ambassadeur vir Rare Diseases South Africa, so uniek is, is haar lewensverwagting ook onbekend. Op die ouderdom van drie is vasgestel dat sy ook aan epilepsie ly.
“Zurika is regtig ’n klein wonderwerkie; ons sal haar vir niks verruil nie,” het die ouma gesê.
Zurika se ma, Zelda, vertel: “Dokters het aan ons gesê dat sy (Zurika) nie sal kan loop nie, sy sal nie kan praat nie en sy sal vir die res van haar lewe verstandelik gestremd wees. Ek het net besluit ons gaan nie moed opgee nie.”
Om haar lewenstyl so ver moontlik te vergemaklik, het Zurika met fisioterapie begin en ’n aantal dokters geraadpleeg.
“Ons het by ’n dokter uitgekom wat ons touwys gemaak het oor spraak, arbeidsterapie -en fisioterapie,” het Zelda gesê.
“Elke dag is ’n leerproses wat ons deurgaan en ’n mylpaal vir ons, want ons weet nie wat die toekoms vir haar inhou nie.
“Geloof, hoop en liefde het ons tot dusver gedra. Zurika hou ons almal op ons knieë – soort van permanent.”
Zelda raak wel soms baie moedeloos en het steeds baie vrae.
In 2012 het sy besluit, ter wille van Zurika, om ’n gesonde leefstyl aan te durf.
“Ek is ’n enkelma; ek het nie geoefen nie en geen gesonde leefstyl gehad nie – ek was heeltyd by haar (Zurika) gewees. Ek het myself uitgedaag en gesê my dogtertjie kan nie loop nie, hoekom doen ek nie moeite om ekstra te doen vir bewusmaking nie,” het sy gesê.
Esterhuizen het toe ’n fietsry-span gestig om deel te neem aan die 94.7 Cycle Challenge en sodoende fondse vir Zurika in te samel.
Sedertdien neem Team Zurika 94.7 nog elke jaar aan hierdie fietswedren deel.
Trinity Protection Services het dié span geborg.
Ander fondsinsamelingsprojekte sluit in ’n Steve Hofmeyr-konsert, sowel as ’n damestee met Rudi Muller.
“Jare gelede het mense gestremde kinders weggesteek, maar dit is niks om oor skaam te wees nie,” het die ouma gesê.
“Zelda het in die begin sleggevoel en haarself afgevra wat sy verkeerd gedoen dat haar kind gestremd is, maar sy het vrede daarmee gemaak dat dit nie haar skuld is nie.
“Zurika leer ons dinge oor die lewe, veral as dit kom by geduld.
Volgens Zelda lag Zurika altyd, maak nie saak wat die omstandighede is nie.
“Sy is ’n mens van haar eie, dus baie uniek.”
* Ondersteun Team Zurika deur kaartjies te koop vir hul tweede Steve Hofmeyr optrede, by Laerskool Concordia, op 17 September.
Bespreek kaartjies by Jenny (083 747 3617) of Adele (076 411 7552).
Vir enige navrae of hulp rakende Rare Diseases South Africa, gaan na www.rarediseases.co.za of kontak Zelda by 081 841 3462.
Volg Zurika op Facebook by: Zurika – fighting for Turner Syndrome. – @IschkeBoksburg



