Editor's choiceLocal newsNews

Plaaslike waaghalse durf vuurhel aan om rekord te verbeter

Ná maande se beplanning en voorbereiding het wêreld rekordhouers, Enrico Schoeman en André de Kock van Boksburg, hul eie rekord verbeter.

Die waaghalse het voorheen deur ‘n vuurtonnel van 103.09 meter ratsig gejaag, en op 5 September, in die Vrystaat ‘n rekord behaal van 120.4 meter.

Rhino Rally-feesgangers het hul asems behoorlik opgehou, maar toe Schoeman en de Kock die einde van die 120m vuurtonnel bereik, en deur die vlamme op ’n pienk motorfiets verskyn, het die skare hulle luidrugtig toegejuig. Die twee het ongeveer 60 km/h deur die vuurtonnel gery, waarvan die vlamme bykans drie meter hoog was.

Die hoogte van die tonnel was twee meter en ongeveer 500-lt diesel en brandstof is onderskeidelik gebruik om die tonnel aan die brand te steek. Dit was die veertiende keer dat Schoeman en de Kock deur ’n vuurtonnel op die motorfiets met gladde bande, geen remme of vering gery het.

Enrico Schoeman en Andre de Kock  het op ’n pienk Australiese-sywaentjie gery ter bewusmaking van kanker.
Enrico Schoeman en Andre de Kock het op ’n pienk Australiese-sywaentjie gery ter bewusmaking van kanker.

Die plaaslike waaghalse het dus hul bestaande Guinness Wêreld Rekord van 2012 nie-amptelik verbreek, en hulle behoort binne die volgende paar weke te weet of dit as ’n nuwe Rekord aangeteken sal word.

“Dit was warm – verskriklik warm, en ons kon niks sien nie. Dit het gevoel soos ’n ewigheid en jy wens om die einde van die tonnel te sien, terwyl jy nie die grond of kante weens die vlamme kan sien nie.

“Jy raak gedisoriënteerd en is nie seker of jy nog reguit ry nie. Ongeveer halfpad deur, het die fiets gegly, maar Enrico het dit briljant gevang en ons het uiteindelik naglug gesien,” sê de Kock.

“Dit is werklik wonderlik om te lewe, te loop, te praat, te eet en alles. Ons het wel nuwe, verskeie idees (vir toertjies), maar ons het nog nie op iets besluit – ons is nog glad nie klaar nie,” sê Schoeman.

De Kock sê egter dat hy nie weer die vuurtonneltoertjie sal doen nie.

Die Australiese-sywaentjie waarmee die paar die toertjie uitgevoer het, was pienk ter bewusmaking van kanker.

Die motorfiets was ook versier met plakkers van die Teddy Bear Clinic en die kliniek het van die plakkers terselfdertyd aan hul ondersteuners gegee.

Die paar was nog nooit vir enige waaghalstoertjie betaal nie en voel dat as liefdadigheidsorganisasies geld kan maak uit iets wat hulle doen, is hulle meer as welkom. – @IschkeBoksburg

Waaghalse Enrico Schoeman en Andre de Kock het hul bestaande rekord van 103.09 meter verbeter en deur ’n vuurtonnel van 120m gery. Fotograaf: Michel Bega
Waaghalse Enrico Schoeman en Andre de Kock het hul bestaande rekord van 103.09 meter verbeter en deur ’n vuurtonnel van 120.4 meter gery. Fotograaf: Michel Bega

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add Boksburg Advertiser as a Preferred Source on Google and follow us on Google News to see more of our trusted reporting in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button