Local newsNewsUpdate

Hofaksie om Christenwaardes uit skole te verwyder kry teenkanting

Die VF Plus steun die hewige versetreaksie teen die hofaksie wat daarop gemik is om ses Suid-Afrikaanse skole te verbied om Christenwaardes by die skole uit te leef.

Die VF Plus sê dit gee indruis teen die wese van demokrasie in die land.

Volgens die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor basiese onderwys, adv Anton Alberts, is die reaksie vanuit kerklike kringe en in die sosiale media ’n bewys dat die hofaksie van ’n groep onder die voorsitterskap van Johannes Pietersen allerweë beskou word as ’n heksejag op Christenskap.

Moderator van die NG Kerk in Suid-Afrika, Prof Nelus Niemand, het aan die VF Plus gesê dié kerk voel so sterk oor die aangeleentheid dat hy hom sal voeg as ’n Vriend van die Hof in die saak.

Hy sê ook hy sal dit verwelkom indien die saak eindelik in die Grondwethof bereg word sodat daar finaal uitspraak daaroor gegee kan word.

Alberts sê dit is duidelik dat die saak godsdiensvryheid bedreig en indruis teen die ‘wese van demokrasie’.

“Godsdiensvryheid is van kardinale belang in Suid-Afrika. Dit is deel van enige volwasse demokrasie.

“In model-C skole geld die beginsel van ouerlike inspraak, bestuur en demokrasie. In daardie skole geld die meerderheidstem en word die etos van die skole op daardie wyse bepaal.”

Volgens Alberts is die skole eintlik publieke/privaat-vennootskappe, aangesien die ouers ook finansieël tot die skole bydra.

Hy sê om teen hierdie agtergrond die meerderheidstem in opvoedkundige instansies te wil doof, druis in teen die grondwetlike beginsels van deelnemende demokrasie.

“Daar rus egter ’n plig op skole en beheerliggame om ook minderhede in daardie skole te beskerm en vryheid van keuse toe te laat. Dus, moet leerlinge wat nie deel van enige godsdienstige aksie wil wees nie, die reg hê om daaraan te onttrek.”

“Insgelyks moet skole en beheerrade sorg dat genoegsame dissipline bestaan om ’n geboelie op enige grondslag aan te spreek, of dit nou ontstaan weens nie-deelname aan godsdienspraktyke, of andersins.

“Boelies vind vele verskonings vir hulle dade en die motief daarvan is nie beperk tot net godsdienspraktyke nie.”

Alberts beweer die organisasie se hofaksie is dus verkeerd gemotiveer en is net daarop gerig om een lewensbeskouing met ’n ander te vervang.

“Leerlinge moet kan leer van die verskillende lewensbeskouinge wat bestaan, maar ’n demokraties-verkose beheerliggaam moet ook die reg hê om sekere praktyke wat strook met hul lewensbeskouing, te kondoneer,” sê Alberts. – @IschkeBoksburg

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add Boksburg Advertiser as a Preferred Source on Google and follow us on Google News to see more of our trusted reporting in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button