Local newsNews

Volkspele beweging staan nog sterk

Die Volkspele-beweging is vanjaar ’n 100-jaar-oud, en eeufeesvieringe vind regdeur die land plaas.

Die beweging se oorsprong na Suid-Afrika is te danke aan dr Samuel Henri Pellissier, ’n onderhoof van Hoërskool Boshoff. Na sy studies in Swede het hy ses Sweedse volksdansers saamgebring om dit vir die kinders te leer.

Tydens ’n Sondagskool-piekniek op 28 Februarie 1914, is die spele vir die eerste keer op ’n plaas genaamd Vuisfontein, ’n paar kilometer noord van Boshoff, vertoon.

Hierdie spele het toe bekend gestaan as die Swedish Games.

By al die pieknieks is daar destyds Swedish Games gespeël, onder andere Jolly Miller, Early (Ellie) Rose, Daar kom die wa, en nog vele meer.

“Ons eie volkspele was ontwikkel deur dansbewegings by ons eie Afrikaanse liedere te voeg, en sodoende het volkspele sy ontstaan gehad,” sê die Boksburg laerleidster, Ria Kasselman.

Volgens Kasselman gaan daar eersdaags ’n nuwe Volkspelebundel verskyn met 150 spele wat uit eg Suid-Afrikaanse bodem kom.

In Gauteng en omstreke (die Transvaalse Streek vir volkspele) was die fees by Curo Serengeti Academy Skool, einde Mei gevier.

Gedurende Julie sluit ’n Belgiese volksdansgroep, die Reintje Vos-groep uit Vlaandere, by die Pellissierweek aan.

Hierdie kursusweek word jaarliks vir hoërskoolleerders aangebied, maar vanjaar toer hulle saam die Vlaamse groep.

Vanaf 18 tot 26 Julie toer ’n seniorgroep volkspele dansers saam met die Nasionale voorsitter, Mike Jacobs van Bloemfontein, deur die land.

Pieter Jansen van Rensburg van Boksburg Inspanlaer is deel van die volkspelegroep wat gekeur is om saam met die Vlaamse groep te toer.

Die hooffees vind plaas in Bloemfontein vanaf 9 tot 12 Oktober.

’n Duitse volksdansgroep, die Volktanzkreisgroep van Heilbronn in Duitsland, besoek Suid-Afrika vanaf 1 tot 15 Oktober.

’n Volkspelegroep sal hulle op die toer vergesel en ook vertonings lewer waar hulle gaan.

In Bloemfontein sal honderde volkspele dansers van regoor die land saamtrek om deel te neem aan die vieringe.

Die volgende lede van Boksburg Inspanlaer gaan op hierdie toer saam met die Duitsegroep: Stiaan en Marita van der Walt, Leone Erskine en Ria Kasselman. Hierdie groep word gelei deur Willie Olivier van Kimberley.

In Boksburg gaan die Inspanlaer die eeufees met ’n volkspele saamtrek in die Boksburg stadsaal op Saterdag, 16 Augustus, om 6nm vier.

Verversings sal beskikbaar wees.

Die laer is hierdie jaar 49-jaar-oud en beplan ’n groot fees in 2015 wanneer die laer 50-jaar-oud word.

Alle volkspele dansers, oud-volkspele dansers en oud-laerlede word versoek om met Kasselman by 011 896 1961 of 072 630 7063, in verbinding te tree vir die reël van ’n reünie in 2015. – @IschkeBoksburg

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add Boksburg Advertiser as a Preferred Source on Google and follow us on Google News to see more of our trusted reporting in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button