SA draai rug glo op kindermishandeling
Onlangse beriggewing oor die wrede seksuele mishandeling van kinders deur hul ouers, plaas misdrywe teen kinders op die voorgrond.

Terwyl die wetlike vervolging van die oortreders goeie nuus is, kan die Suid-Afrikaanse Vrouefederasie (SAVF) nie anders as om te wonder waar was die betrokke gemeenskappe terwyl hierdie misdrywe plaasgevind het nie?
Dit volg nadat ’n ma van vier kinders op 1 Julie in die Rustenburgse streekshof 12 lewenslange vonnisse opgelê is nadat sy haar seun verkrag het en ook toegelaat het dat haar man haar dogters misbruik.
Die mishandeling het volgens hofstukke sedert 2007 gebeur.
Die sogenaamde “Huis van Gruwels” in Springs aan die Oosrand, vertel ’n soortgelyke verhaal.
“Dit is baie onwaarskynlik dat die gemeenskap, hetsy familie-lede, vriende of onderwysers, nie onraad vermoed het nie,” sê SAVF Gauteng Streeksbestuurder, Suzette Oosthuizen.
“Tog het die mishandeling in hierdie twee gevalle vermoedelik vir etlike jare geduur. Gemeenskappe het ’n verantwoordelikheid met betrekking tot die welstand van kinders en moet bedag wees op die tekens van kindermishandeling.
“Ons kan nie anderpad kyk en nie betrokke raak nie.”
Sy sê dat enige vermoede van mishandeling aangemeld moet word.
Daar word verneem dat daar in 2011/12 ongeveer 50 000 misdade teen kinders aangemeld is, waarvan die helfte seksuele aanklagte is.
In die meeste gevalle was die oortreders ’n persoon wat die kind geken het.
Volgens Oosthuizen is onderwysers, dokters en maatskaplike werkers wetlik verplig is om enige vermoede van kindermishandeling aan te meld, maar sê wel dat die onus egter nie net op hierdie mense rus nie.
“Mense in die gemeenskap is dikwels die eerstes wat die tekens van mishandeling sien en kan keer dat dit vir jare aanhou.”
Kinders wat mishandel word kan uitgeken word aan, onder andere skielike gedragsverandering, selfmoordneigings, swak selfbeeld, regressie, ontrekking van vriende en familie, aggressie, seksueel uitreagerende gedrag en depressie.
“Sommige kinders mag dalk geen van bogenoemde tekens toon nie, omdat hulle aanvaar dat wat met hulle gebeur ‘normaal’ is,” sê Oosthuizen.
“Die hartseer is ook dat die sisteem die betrokke kind heel dikwels in die steek laat, hetsy mediese dokters, landdroste, SAPS of ander professionele persone.”
Indien daar ’n vermoede is dat ’n kind mishandel word, moet persone nie huiwer om dit aan te meld nie.
“Dit kan liewer as ongegrond bewys word, as dat die situasie onbepaald voortduur en die kind magteloos gelaat word omdat hy dit nie bekend kan maak nie,” sê Oosthuizen.
Persone wat kindermishandeling vermoed moet dadelik die naaste maatskaplike-werk kantoor, of kinderbeskermingsorganisasie kontak.
Childline kan ook tolvry geskakel word by 0800 55 555 of die Suid-Afrikaanse Polisie se Kinderbeskermingseenheid by 10111. – @IschkeBoksburg



