Spoggerige houtkar gebou met engin
“My passie is hout en wanneer ek ’n stuk hout sien, sien ek ’n produk - nie hout net om 'n braaivleisvuur te bou nie.”
So vertel die eienaar en ontwerper, Nico Grobler, wat in Boksburg Noord woon, van die spoggerige asook funksionerende houtkar.
Hy en sy seun Hugert het ‘n Renault R5 opgebou met hout, beide vir die pret en omdat dit as bemarkingsmiddel gedien het vir hul skrynwerkfabriek.
Nico het ou Renaults 5 op ‘n stadium gekoop vir die onderdele aangesien sy vrou so lief was vir die karretjie.
Die was juis een van dié Renaults wat se bakwerk baie geroes was, wat hulle as ‘n span getakel het. Die projek het in 2006 in Parow in die Wes-Kaap begin.
Hugert het oorspronklik voorgestel dat hulle ’n pypkar bou, maar Grobler besluit toe dat dit eerder ’n houtkar moet wees.
“Ons het die onderstel, sowel as die res van die motor gebou soos ons tyd kon kry tussen deur die normale poduksie van die fabriek, waar ons deure, rame en ander houtprodukte gemaak het,” sê Nico.
Hulle het kiaat, kersie geelhout, Suid-Afrikaanse denne en meranti gebruik vir die bou van die houtkar.
Saam, het Grobler en Hugert ’n gedugte span gemaak.
“Ek het 45 jaar se ondervinding in houtwerk, waar Hugert meer elektriese agtergrond het,” sê Nico.
Al die bedrading is deur Hugert gedoen en net soos elke motor, het die houtkar ook ’n sluitstelsel.
Die musieksentrum wat bestaan uit ‘n radio versterker, agt luidsprekers en twee tweeters en ‘n “booster” is deur Hugert herstel en ingebou.

Die enjin van die motor, wat Grobler en Hugert gestroop het om die houtkar te bou, is herstel en so vandag kan hulle lekker rondry.
Die teëls wat vir die houtkar se dak gebruik is, is dié wat oorgebly het toe Grobler destyds aan sy huis gewerk het, en die mat in die houtkar is ’n skenking van ’n winkel in Goodwood.
Die houtkar slaap saans buite en volgens Grobler, weerstaan dit natuurelemente.

“Dit wys die duursaamheid van die vernis wat gebruik is. Tydens ’n skou in Parow het die houtkar die eerste plek verower en daar is gesê dat die houtkar ’n kunswerk is,” sê Grobler.
Vorige houtprojekte wat Grobler aangepak het, is die ontwerp van meubels wat oor Suid-Afrika versprei is, onder andere ’n kroeg waar 120 mense kan aansit en verskeie soliede hout. – @IschkeBoksburg



