FAK Skole Ekspo vat vlam vir Afrikaans
Die Afrikaanse Ekspo het vanjaar ’n nuwe baadjie aangetrek en staan nou bekend as die FAK Skole Ekspo.

Volgens die FAK se besturende direkteur, Danie Langner, is dit steeds ’n opwindende skole-kompetisie wat jaarliks vir leerders en onderwysers landwyd verskeie geleenthede bied om elektronies “vlam te vat vir Afrikaans”.
Skole in Suid-Afrika en Namibië neem deel aan hierdie ekspo en die feit dat die leerders elektronies kan deelneem, maak dit moontlik vir leerders in die uithoeke van die wêreld om die Afrikaanse taal kreatief te bevorder.
“Met groot blydskap kan ons bekend maak dat vir 2014 daar reeds ’n aantal skole in Namibië vir die projek ingeskryf het,” sê Langner.
Die FAK Skole Ekspo fokus veral op leerders se kreatiewe hantering van Afrikaans.
So word Afrikaans by die jeug op ’n kreatiewe en positiewe wyse bevorder.
“Dit is ’n wonderlike geleentheid vir blootstelling vir die skole en leerders in Boksburg en vir hulle om deel te neem aan die ekspo,” sê die FAK kommunikasiebestuurder, Hannie Boshoff.
“Riëtte Grobler, wat tans ons beskermvrou van die ekspo is, was in die verlede ’n ekspo-wenner en dit het haar die ervaring en vorming gegee wat sy tans by Beeld en Jip toepas.”
Die FAK poog om ’n geskiedenisbewustheid onder die jong mense te kweek, daarom ook is die tema vir vanjaar “1914/2014”.
Die jaar 1914 was nie net belangrik as gevolg van historiese gebeure soos die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog en die Rebellie nie, dit is ook die jaar waarin Langenhoven die eerste Afrikaanse spelreëls gepubliseer het, wat gelei het tot die ontwikkeling van Afrikaans as ’n hoëfunksieskryftaal.
Leerders kan onder andere aan die volgende kategorieë deelneem:
* Historiese of beredeneerde opstelle.
* Dagboekinskrywings,
* Kortverhale,
* Poësie.
* Musiek en liriek, en
* Kuns en fotografie.
Daar is ook geleentheid om hulle staal te wys in die maak van kortfilms en advertensies.
“Die kategorieë is so gekies dat dit die ideale voertuig is om Afrikaans in die klaskamer opwindend aan te bied en aan die onderwyser die geleentheid te gee om potensiële kategorie-inskrywings by klaswerk te inkorporeer,” sê Langner.
Leerders kan in skoolverband deelneem, maar kry ook die geleentheid om as persoon in te skryf vir die ekspo.
Die inskrywings moet elektronies ingestuur word en nie later nie as 31 Julie by Chrisna Nel, by ekspo@fak.org.za, ontvang word.
Vir meer inligting, kontak vir Boshoff by 012 301 1777 of hannie@fak.org.za. – @IschkeBoksburg



