Editor's choiceLocal newsNewsSchools

Helpende Hand gee R1-m vir beurse

Solidariteit Helpende Hand het aangekondig dat hy R1-miljoen sal skenk ten bate van ’n beursfonds vir naskoolse tegniese opleiding.

Hierdie geld sal as studiehulp aangewend word vir opleiding in ’n ambag by die Solidariteit Beweging se tegniese kollege, Sol-Tech.

“Helpende Hand fokus op die voorkoming van armoede, deur jongmense te help om ’n skaars en gesogte kwalifikasie te bekom,” sê die uitvoerende direkteur van Helpende Hand, dr Danie Brink.

“Ons sien opleiding as die beste belegging vir die toekoms en weet dat ’n tegniese kwalifikasie juis hierdie doel sal verwesenlik.

“Suid-Afrika het, volgens die hoof van die Merseta, dr Raymond Patel, ’n tekort aan 40 000 ambagslui.”

“Nie net is Sol-Tech-studente baie gesog nie, hulle betree ook ’n beroep waar die vraag die aanbod aansienlik oorskry.”

Brink verduidelik dat hoewel daar met die toekenning van hierdie studiehulp voorkeur gegee sal word aan voornemende studente wat reeds wiskunde en wetenskap in graad 12 geslaag het, kan ander jongmense ook vir beurse aansoek doen.

Volgens hoof van Sol-Tech, Paul van Deventer, is die kollege se gemiddelde slaagsyfer ten opsigte van studente se eerste aflegging van die vaktoets 96 persent.

“Wanneer tweede en derde pogings in ag geneem word, styg hierdie syfer tot bykans 100 persent,” sê hy.

Van Deventer voeg by dat dit vir Helpende Hand ’n bewys is dat Sol-Tech ’n betroubare en eersterangse opleidingsinstansie is, waar die sukses van beursstudente byna gewaarborg is.

Voornemende studente word uitgenooi om die webblad van Helpende Hand se Afrikaanse Beursinstituut, by beurs.helpendehand.co.za, te besoek.

Inligting oor hierdie en ander studiehulp by Sol-Tech is ook by Colette Scott, by 012 644 4390, verkrygbaar. – @IschkeBoksburg

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add Boksburg Advertiser as a Preferred Source on Google and follow us on Google News to see more of our trusted reporting in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button