Barmhartige samaritaan skenk komberese aan tehuis
Mej Teen Lady Gracious, Lizani de Waal, ’n graad 11 leerling by Hoërskool Oosterlig, het Woensdag, 21 Mei, ’n welwillendheids besoek by die Kowa Pienaar Tehuis in Elspark afgelê.
Lizani het sedert haar kroning in 2013 dit haar ten doel gestel om ’n verskil in haar samelewing te maak.
Sy het twee fondsinsamelings funksies gereël om fondse vir die Tehuis in te samel.
Die dag was ’n blye dag toe sy met ’n gedeelte van die opbrengste vir dertig inwoners van die Tehuis elk ’n kombers kon oorhandig – net betyds vir die winter wat om die draai is.
Met die res van die wins hoop Lizani om ’n rolstoel vir die Tehuis aan te koop.
Die Kowa Pienaar Tehuis het tans sewentig inwoners waarvan net 48 deur die Staat gefinansier word.
Vir die res van die kostes is die Tehuis van skenkings en fondsinsamelings afhanklik.
Die Tehuis verskaf huisvesting aan bejaardes sowel as aan gestremdes en verswakte persone.



